
Dr. Pieter Groenewald, VF-Plus-leier, skryf:
Onteiening sonder vergoeding en grondgrype in Suid-Afrika is nou ’n werklikheid.
Daar heers groot onsekerheid onder alle gemeenskappe in Suid-Afrika, en veral in die landbougemeenskap, oor hoe die proses sal plaasvind en hoe dit almal in die land sal raak.
In die lig hiervan stel die VF-Plus verdere aksiestappe bekend om op internasionale vlak teen die ANC op te tree om die proses van onteiening sonder vergoeding teen te staan en om mense wie se eiendom direk bedreig word, deur ’n toegewyde SMS-lyn by te staan met hulp en raad. Die SMS-nommer is tel. 43366.
Die VF-Plus het reeds ’n amptelike klag by die Verenigde Nasies (VN) se menseregtekommissie ingedien weens die ANC-regering se oortreding van art. 17 van die VN se Handves en Internasionale Verklaring van Menseregte wat privaat eiendomsbesit beskerm en onteiening sonder vergoeding verbied.
Die party sal ook op versoek van die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika ’n voorlegging aan die Amerikaanse saakgelastigde in die land doen waarin die grondkwessie en plaasaanvalle en –moorde belig gaan word.
Dit sluit aan by die VF-Plus se huidige “Slaan Terug”-veldtog wat daarop gemik is om die internasionale gemeenskap se aandag op die aangeleentheid te vestig en om die ANC daadwerklik teen te staan in dié verband.
Ongeag die vae ondernemings van pres. Cyril Ramaphosa oor hoe hy die proses in die vooruitsig stel, is onuitwisbare en onrealistiese verwagtings reeds by die massas geskep soos gesien kan word in onwettige besettings wat reeds regoor die land voorgekom het by plekke soos Stellenbosch, Virginia, Harrismith en Wesselsbron. Muni-sipale grond is ook oor die naweek in Parys beset.
Dit is dus baie duidelik dat die president se ondernemings geen gewig hoegenaamd by die mense op grondvlak dra nie. Die vraag moet ook gevra word of die polisie werklik die politieke wil en vermoë sal hê om kragdadig en doeltreffend op te tree indien massabesettings landwyd sou voorkom.
Die VF-Plus wil dit duidelik stel dat hy nie gekant is teen grondhervorming nie en dat die meganisme wel deur die bestaande art. 25 van die Grondwet geskep is om dit op ’n ordelike en verantwoordelike wyse te laat plaasvind teen vergoeding vir die eienaar. Hierdie proses het slegs misluk deur korrupsie, wanbestuur en die onbevoegdheid van die regering en sy instellings.
Twee verdere wanopvattings wat die regering en die EFF as narratief vir die beoogde onteieningsproses sonder vergoeding aanvoer, is dat wit mense grond wat hul besit, gesteel het en dat die blote besit van grond welvaart skep. Dit is van alle waarheid ontbloot.
Die VF-Plus dring daarop aan dat die huidige, wettige meganismes gebruik word om grondhervorming op ’n ordelike wyse te laat geskied.
Die party sal enige ander onbillike poging tot grondhervorming op elke wyse moontlik teenstaan.



