Die swak toestand van paaie in Modimolle is ’n klagte wat gereeld gehoor word.
Danksy ’n vrygewige skenking van ’n sakeman kon ’n span van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se openbare werke-afdeling vandeesweek die ingang na ondernemings naby die hoofingang van die dorp vanaf die snelweg regruk.
Die openbare werke-span, onder leiding van spanleier Oupa Shiburi, het die gehawende teer opgekap sodat die ingang na die ondernemings langs die A.S. Salaam-woonbuurt (tussen Ford en Meatrite) weer geteer kon word.
“Dié stukkende pad skep ’n baie swak indruk by besoekers as hulle deur die dorp ry. Ons wil die dorp se aansig opkikker sodat ons ’n beter indruk skep,” het Marlene van Staden, burgemeester, gesê.
Die nywerheidsgebied is aan die oorkant van dié pad geleë. Sakelui kla al jare lank dat die swak toestand van dié pad hul sake belemmer. Hulle spring telkens self in om die pad begaanbaar te hou.
“Ons beplan om daardie deel ook binnekort te herstel,” het Van Staden gesê.
“Ons is dankbaar vir inwoners wat bitumen en gruis skenk sodat ons herstelwerk aan paaie kan doen. Ons kan dit nie andersins bekostig nie. As ons die voorraad in die hande kry, het ons wel die kennis, personeel en gewilligheid om die taak te verrig,” het sy gesê.
A.S. Salaam se slaggate sou ook herstel en die padskouers skoongesny word. Volgens Van Staden is dit die eerste keer in vyf jaar dat dié deel van die dorp se paaie aandag geniet.
“Ons het onlangs — ook danksy ’n sken-king — weer padstrepe in Kerk- en Boshoff-straat geverf en sal volgende aandag gee aan die slaggate,” het sy gesê. Shiburi het gesê sy span is deur verbygangers bedank vir hul werk. Van Staden vra inwoners wat bitumen of gruis wil skenk om haar te kontak.



