Local newsNews

Kaila, die klein Warrie met die gróót hart

“Toe ek haar weer verder op die baan sien, het sy haar opgetel en gedra. Sy het haar eers laat gaan toe sy sien die gedeelte met die dorings is verby.”

Kaila Germishuys (9), ’n jong leerder aan Laerskool Warmbad, het op Woensdag 22 Augustus tydens ’n landloopbyeenkoms in Groblersdal die wêreld geleer wat omgee is toe sy tydens die wedloop omgedraai het en ’n leerder van Groblersdal Academy, wat kaalvoet deur die doring gehardloop het, te hulp gesnel het.

Kaila Germishuys van Laerskool Warmbad het op Maandag 27 Augustus spesiale toekennings ontvang nadat sy ’n meisie van Groblersdal deur dorings by ’n landloopbyeenkoms gehelp het. Op die foto is Hennie Coetzee, skoolhoof, Angi, Kaila en Kobus Germishuys en Thinus van der Heever van Edu Discipline.

Kaila het die meisie, Sephokwane Malaka, opgetel en verder gehardloop totdat hulle deur die dorings was.

Die feit dat Kaila nie aan haar eie moontlike prestasie gedink het nie en teruggedraai het om vir Sephokwane, wat sonder skoene was, deur die dorings te help om ook die wenstreep te haal, het die toeskouers aangegryp.

Thinus van der Heever, van die Edu Discipline-organisasie in Bela-Bela, het die foto en storie van Kaila en Sephokwane eerste gedeel.

“Kaila het hartstogtelik gehuil want een van die seuns wat as beampte opgetree het, het vir haar gesê sy mag nie die ander atleet help nie,” het hy geskryf. “Ek het vir haar gesê sy mag. Dit is haar besluit of sy net die wedloop wil klaar maak en of sy die ander kind wil gaan help. Sy het dadelik omgedraai en teruggehardloop na die ander meisie toe, haar hand gevat en saam met haar verder gehardloop. Toe ek haar weer verder op die baan sien, het sy haar opgetel en gedra. Sy het haar eers laat gaan toe sy sien die gedeelte met die dorings is verby.”

Kaila se kameraadskap is wyd op sosiale media versprei . Dié storie van omgee het nagenoeg 750 000 mense op Facebook bereik.

Dit het veroorsaak dat boodskappe en hulp vir kinders wat nie skoene het nie, ingestroom het.

Van der Heever het tydens Laerskool Warmbad se saalopening op Maandag 27 Augustus ’n spesiale medalje en ’n erkenningstrofee aan Kaila oorhandig vir haar omgeehouding.

“Sy het gehelp dat iemand anders ook die wedloop kon voltooi. Kom ons maak die wêreld vol goeie stories soos dié,” het Van der Heever gesê.

Hy het veral klem daarop gelê dat Kaila se ouers, Angi en Kobus Germishuys, haar goed opgevoed het wat in haar dade weerspieël is.

Talle organisasies het hul eie inisiatiewe en internetbladsye gestig waar hulle ’n beroep om mense doen om skoene vir minderbevoorregte kinders te skenk.

Gerda Pringle, ook van Edu Discipline, het gesê mense wat belangstel om kinders te help, kan gerus die Edu Discipline se Facebook-blad besoek.

Omdat Kaila die idee van omgee na baie ander versprei het, staan die inisiatief bekend as die Kaila Germishuys kame-raderie-inisiatief.

“Mense kan selfs na hul plaaslike skole gaan, betrokke raak en daar ’n verskil probeer maak,” het Pringle gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button