LettersOpinion

Goeie leierskap is belangrik

Suid-Afrika het meer as ooit leiers nodig met emosionele- en politieke intelligensie wat weet sosialisme misluk omdat hulle nie iets anders aanvaar as dit wat die massa voorskryf nie.

Karel Niewenhuis, adjunkprovinsiale leier: Vryheidsfront Plus, skryf:

Eerbaarheid behoort hoog aangeskryf te word in die definisie van leierskap.

Dit is jammer dat eerbare leiers in die politieke arena ’n bedreigde spesie is. Suid-Afrika het meer as ooit leiers nodig met emosionele- en politieke intelligensie wat weet sosialisme misluk omdat hulle nie iets anders aanvaar as dit wat die massa voorskryf nie.

Daar is universele waardes — soos die beslaglegging van eiendom — wat verhewe is bo ’n politieke bestel. ’n Wet kan nie gebuig word om dit wat moreel verkeerd is, te regverdig nie. Net so is dit byvoorbeeld eties onaanvaarbaar om dit te ignoreer indien rassisme op ’n minderheids-groep gerig word.

Kiesers stel hul vertroue in ’n gekose leier, daarom is ’n eerbare leier per se betroubaar. Dit bring ons by die vraag of jy die party waarvoor jy stem, volkome vertrou.

Die verligting, van veral die landbousektor was voelbaar toe die ANC ná die berade oor grondonteiening sonder vergoeding, tekens van samewerking aan die boere begin toon het. Maar grondonteiening sonder vergoeding is nie van vandag af op die ANC se spyskaart nie. Het die ANC wakker geskrik en die teenstrydigheid van grondonteiening sonder vergoeding en sy doelwit van ekonomiese groei en voedselsekerheid ingesien? Anders gestel: kan ’n party wie se oggend- en aandpraatjies verskil, blindelings vertrou word?

Armoede, verval en werkloosheid is ’n teelaarde vir magsbehepte, radikale leiers. ’n Misplaaste magsgevoel skroom nie om selfs die president van die magtigste volk ter wêreld die leviete voor te lees nie. Dit is ewe gevaarlik as lagwekkend. ’n Magstryd vier hoogty in munisipaliteite waardeur dienslewering belemmer word. Onderlinge gevegte en mosies van wantroue, het byna ’n daaglikse verskynsel geword. Die maghonger leiers wil nie slegs beheer oor eiendom verkry nie, maar ook die banke en by name die Reserwe Bank met inspraak in die monitêre beleid as doelwit.

Die VF Plus gaan nie geblinddoek deur die krisis waarin die land verkeer weens insiglose leiers nie. Ons bepleit leiers met morale beginsels, duidelik uitgespelde standpunte en wat nie sal luister na dié wat die hardste skree nie, maar na die weerloses en diegene wat opreg is in hul voorneme om van Suid-Afrika ’n gerespekteerde, ekonomies onafhanklike land te maak.

Wanneer pres. Cyril Ramaphosa vrylik na “my people” verwys, behoort dit alle inwoners van die land in te sluit, ongeag ras, kleur en oortuiging. (Brief verkort. — Red.)

Related Articles

Back to top button