
Die minister van polisie, Bheki Cele, het op Dinsdag 11 September ’n donker prentjie oor landsburgers se veiligheid geskets toe hy die nasionale en jaarlikse misdaad-statistieke in die parlement bekendgemaak het.

Só lyk die misdaadsyfers in Die Pos se lesersgebied. Grafika: Willie Nel
Die volgende misdade het volgens die polisiesyfers tussen April 2017 en Maart 2018 op nasionale vlak gestyg: Moord (20 336 voorvalle), seksuele misdrywe (50 108), poging tot moord (18 233), verkragting (40 035), seksuele aanranding (6786), transitorooftogte (238), bankrowe (13), veediefstal (28 849), die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie (17 558), dwelmverwante misdaad (323 547) en dronkbestuur (86 160).
In Limpopo het moord (911 voorvalle), seksuele misdrywe (3 862), poging tot moord (884), roof met verswarende omstandighede (7 048), seksuele aanranding (303), voertuigkaping (584), huisroof (1490), sakeroof (1821), transitorooftogte (14), vragmotorkaping (32), voertuigdiefstal (1024), veediefstal (2187), onwettige besit van vuurwapens en ammunisie (640), dwelmverwante sake (19 592) en dronkbestuur (1346) gestyg.
Inbrake en diefstal het Bosvelders veral oor hierdie tydperk geraak. In Bela-Bela is daar by 86 ondernemings en 408 huishoudings ingebreek, in Modimolle by 124 ondernemings en 317 huise, in Vaalwater by 49 ondernemings en 78 huise en in Mookgophong by 94 ondernemings en 239 huise.
In Die Pos se lesersgebied het die meeste moorde in Mookgophong (11 voorvalle) plaasgevind. In Bela-Bela het 10, Modimolle agt en Vaalwater vyf moorde plaasgevind.
Bela-Bela het egter uitgestaan met 853 dwelmsake wat ondersoek is. In Modimolle is 265 dwelmsake ondersoek, in Mookgophong 127 en in Vaalwater 195.
Die parlement het dieselfde dag ’n verklaring van die portefeuljekomitee oor polisie uitgereik met ’n sterk boodskap dat die styging in misdaad onaanvaarbaar is, veral die hoë moordsyfer.
Die komitee het gemaan dat die polisie meer strategiese ingryping moet oorweeg vir die voorkoming en bekamping van misdaad en nie net op operasionele of taktiese reaksies fokus nie.
“Die komitee stel voor dat die bestuur van die nasionale polisiediens hul streek- en polisiestasiebestuur versterk, veral daar waar misdaad hooggety vier. Dit sal die streek versterk om kontakmisdade aan te pak,” het die parlement se verklaring gelui.
’n Beroep is ook op die polisie gedoen om gespesialiseerde eenhede wat spesifieke misdaad hanteer, se hande te versterk.
“Die komitee dring daarop aan dat die polisiewet en die vuurwapenbeheerwet hersien moet word om in voeling te kom met die nuwe misdaadtendense. Misdaad is ’n maatskaplike probleem en daarom moet die polisie ’n nuwe raamwerk na vore bring vir gemeenskapspolisiëring.”
Die komitee het bygesê dat die getal polisiebeamptes vermeerder moet word en daar moet begroot word om beter tegnologie aan te skaf.



