Local newsNews

Sonaangedrewe voertuie ry deur Bela-Bela se strate

Die Sasol Solar Challenge is tussen Woensdag 19 September en Vrydag 21 September vir die eerste keer in Limpopo en in Bela-Bela gehou.

Dié kompetisie word elke twee jaar in die land gehou waartydens spanne van regoor die wêreld sonpaneelaangedrewe voertuie ontwerp en bou waarmee hulle van Pretoria na Kaapstad ry.

Inwoners het tydens die drie dae dié unieke voertuie in Chris Hani-weg in die straat sien ry.

Die spanne se doelwit is om te kyk hoe ver hulle met die voertuie kan ry. Dit kan ’n tameletjie raak omdat al die voertuie van sonkrag afhanklik is.

Volgens die Sasol Solar Challenge-webtuiste was die laaste rekord van die hoeveelheid kilometer wat in ’n sonkragvoertuig afgelê is, in 2016 toe al die voertuie tydens die vorige Sasol-geleentheid altesame 45 000 km afgelê het.

Anzet du Plessis, woordvoerder van die geleentheid, het by navraag gesê nege spanne het vanjaar ingeskryf, wat selfs van Nederland, Japan en Switserland af kom.

Die spanne van Suid-Afrika is die Noordwes-Universiteit, die Tshwane-Universiteit van Tegnologie, Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein, die Cape Peninsula University of Technology n ook leerders van die St. Albans en St. Augustine skole in Pretoria.

“Die meeste van die voertuie lyk vanjaar verskillend — veral dié in die Challenger-afdeling, wat die mees mededingende afdeling is,” het Du Plessis gesê.

“Die Sasol Solar Challenge is gestig om veral jong mense te inspireer en om hulle tydens die geleentheid te leer van wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde.

Die leerders en studente wat hieraan deelneem doen deeglike en praktiese ondervinding vir hul toekoms op.”

Nadat die spanne hul voertuie in Bela-Bela getoets het en daar bepaal is dat die voertuie aan die standaarde voldoen, het die amptelike uitdaging vir die kundiges en hul sonkragvoertuie op Saterdag 22 September in Pretoria afgeskop, het Du Plessis gesê.

Altesame 18 dorpe en stede sal tydens die geleentheid besoek word, waarna dit op Sondag 30 September in Stellenbosch eindig.

Die amptelike wenners sal later die dag in Kaapstad aangewys word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button