CrimeNews

Drie polisiebeamptes het te midde van groot belangstelling in die landdroshof in Bela-Bela verskyn

Die beamptes het die klaer skynbaar van ’n plaaslike dobbelplek vergesel en aangedring dat hy omkoopgeld aan hulle betaal.

Drie polisielede van Bela-Bela het op Dinsdag 25 September vir groot oproer by die Bela-Bela-landdroshof gesorg nadat hulle op Vrydag 21 September in hegtenis geneem is.

Lede van die Bela-Bela-polisie moes talle mense op Dinsdag by die land-droshof vra om uit die hof se wagarea te beweeg nadat gemeenskapslede opgedaag het om te sien wie die drie plaaslike polisiebeamptes is wat van korrupsie, ontvoering en gewapende roof aangekla word.

Die beamptes, sers. Humbulani Mulaudzi (39), konst. Hlengani Jan Maswan-ganyi (33) en konst. Sibusiso Wimpy Makwela (37) is op Vrydag 21 September deur lede van die direktoraat vir voorkeurmisdaadondersoeke (die Valke) by die Bela-Bela-polisiestasie in hegtenis geneem.

Kapt. Matimba Maluleka, Valke-woordvoerder, het by navraag gesê daar word beweer dat die beamptes op Vrydag 7 September ’n klaer van R190 000 beroof het.

Maluleke het gesê die beamptes het die klaer skynbaar van ’n plaaslike dobbelplek vergesel en aangedring dat hy omkoopgeld aan hulle betaal.

Maluleke het voorts gesê die beamptes het die man glo gedreig dat hulle hom van geldwassery sal aankla as hy hulle nie betaal nie.

Die Valke se ernstige korrupsie-eenheid is ná die voorval met ’n klag genader waarna die inhegtenisname plaasgevind het.

Die drie beamptes het die langnaweek in aanhouding deurgebring.

Hoewel Maswanganyi en Makwela hul gesigte tydens Dinsdag se hofverskyning van die skare en die media probeer weghou het, het Mulaudzi die toeskouers met ’n glimlag gegroet toe die drie van die hofselle na die hofgebou geneem is. Die hofverrigtinge het egter in camera plaasgevind.

Hulle saak is uitgestel na Maandag 1 Oktober vir ’n formele borgtogaansoek. Hulle is steeds in aanhouding.

  • Polisiebeamptes in Burgersfort was ook verlede Vrydag in die sop weens beweerde omkoopgeld.

    Volgens Matome Moremi, provinsiale verkeerswoordvoerder, is twee beamptes van die Burgersfort-speurtak in hegtenis geneem.

    Moremi het gesê die beamptes het ’n groep verdagtes, wat verbind word met ’n bedrogsaak van R600 miljoen, vroeër op ’n onwettige manier vrygelaat. Moremi het gesê daar word beweer dat die bedrogverdagtes die twee beamptes R15 000 omkoopgeld betaal het om hulle vry te laat. Die beamptes is in hegtenis geneem.

    Makoma Makhurupetje, LUR van vervoer en gemeenskapveiligheid in die provinsie, het hierop gesê dat korrupsie een van die faktore is wat die publiek se vertroue in die polisie laat daal.

    “Daar is geen plek vir korrupsie in Limpopo nie en ons sal alles doen om dit met wortel en tak uit te roei,” het sy in ’n verklaring gesê.

    Dié twee polisiebeamptes sou na verwagting ook op Dinsdag in die landdroshof in Burgersfort verskyn het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button