Local newsNews

Droomland toe in pa se chev

Wat is tog lekkerder as ’n pa wat jou in sy sterk arms vat en snoesig in die bed gaan bêre terwyl jy die Old Spice teen sy wang ruik?

My liefde vir motors en ander dinge met enjins het weinig met status uit te waai.

Mazda se “zoom-zoom”-bemarkingsveldtog het juis probeer om die genot van beweging in ’n slagspreuk saam te vat. Buiten die vars gevoel van die wind in jou hare, het ek ook ’n diep belangstelling in die meganika van rygoed. Maar vir my is die kersie op die koek die feit dat voertuie ons die geleentheid bied om die mooiste herinneringe te bou.

My pa het ’n Chev Ranger gehad. Ek was klein. Klein genoeg om nog opgetel en bed toe gedra te word as ek in die motor aan die slaap raak. Wat is tog lekkerder as ’n pa wat jou in sy sterk arms vat en snoesig in die bed gaan bêre terwyl jy die Old Spice teen sy wang ruik?

Ek onthou die Ranger was ’n tweedeur. Ek dink nie dit was die SS-model nie, maar vir my het die koepee-stilering — mens het dit ’n “Fastback” genoem — bitter vinnig gelyk. Met die “Fastback” was die agterruit besonder groot en kon ek met my jong, klein lyfie ’n bedjie maak in die spasie agter die sitplek. Daar het ek my eie plekkie agter “in die venster” gehad.

Ek onthou spesifiek hoe ons op koue hoëveldaande van kuiermense af gery het. Sundra, Ogies, Leandra verby terwyl ek die mooiste uitsig op die sterre gehad het van onder my kombersie. Die venster was altyd ysig koud, saggies het ek aan die slaap geraak.

As ons by die huis stop, het ek wakker geword, maar stilletjies my oë styf toegeknyp, want pappa sou nie ’n wakker kind bed toe dra nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button