John Steenhuisen, DA-hoofsweep in die parlement, het ’n Kaapse draai in Modimolle gemaak.
Dié parlementslid, bekend vir sy vinnige, gevatte opmerkings teenoor opposisieraadslede, het op Vrydag 28 September inwoners se vrae tydens ’n vergadering by die Bosveldsig-sentrum beantwoord.
Steenhuisen het aan die groep mense gesê dit is ’n moeilike tyd vir die land en dat daar onsekerheid is oor watter rigting Suid-Afrika inslaan.
“Talle mense is woedend dat Suid-Afrika die gulde geleentheid om te groei en sy ekonomie te versterk, gemis het,” het hy gesê.
Oor die nasionale minimumloon het hy gesê dit is nie goeie nuus vir die land nie.
“In ander lande waar dié wetgewing geïmplementeer is, het dit tot werksverliese gelei. Die tesourie se eie verslag het gesê dat indien dit geïmplementeer word, dit tot soveel as ’n miljoen minder werksgeleenthede kan lei,” het hy gesê.
Volgens Steenhuisen is die nasionale gesondheidsversekering niks anders as die nasionalisering van die gesondheidsbedryf nie.
“Die regering moes hul eerder na die privaatsektor gewend en om hulp gevra het. Die openbare gesondheid is in ’n gemors. As dit voortgaan sal ons almal van openbare gesondheid afhanklik wees, of Botswana toe moet gaan om ’n tand te laat trek.”
“Ons kan nie Suid-Afrika se probleme probeer oplos met dieselfde mense wat die probleem veroorsaak het wat in die regering dien nie,” het hy gesê en verwys na ministers wat betrek is by staatskaping en wanbestuur.
Voedselsekerheid en ’n groeiende ekonomie kan volgens Steenhuisen nie in dieselfde sin as grondhervorming gebruik word nie. Navorsing wys dat lande met gevestigde eiendomsreg vooruitstrewend is met ’n laer voorkoms van armoede en babasterftes. Die teenoorgestelde geld vir lande waar eiendomsreg onder beleg is.
“Nie een van die 4 900 plase wat die regering reeds onteien het se titelaktes is aan mense oorhandig nie. Indien die eienaarskap van tradisionele grondgebiede aan die inwoners oorhandig word, sal dit die landsbesitprentjie oornag verander,” het hy gesê.
Hy het gesê dat dit onwaarskynlik is dat die veranderinge aan die grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, voor die verkiesing afgehandel sal wees. Dit is ’n lang proses.
Op ’n vraag oor wat agter die skerms in die politieke wêreld aangaan, het Steenhuisen geantwoord dat dit wil voorkom asof die EFF weer nader aan die ANC beweeg met vergaderings tussen Julius Malema en adjunkpresident David Mabuza. Volgens hom is Cyril Ramaphosa, die president, in ’n baie kwesbare posisie.



