
Die verbod op dieselmotors in sekere Duitse stede, of eerder gedeeltes van stede, het die afgelope paar maande kort-kort die koerantblaaie gehaal.
In hierdie tyd van sensasie en oningeligte menings is daar glo selfs Suid-Afrikaners wat ná ’n braai of kroeggeselsie met ’n “kenner” van dieselmotors begin ontslae raak het omdat diesel kwansuis voortaan nie meer beskikbaar sal wees nie.
Dit is egter ’n bietjie vroeg vir Suid-Afrikaanse motorryers om nou al hul dieselvoertuie in te ruil op klein Chinese turbopetrolenjins. Om perspektief te behou, behoort ’n mens ’n paar belangrike punte in ag te neem.
Die gewildheid van dieselmotors oor die afgelope dekade was die gevolg van pogings om besoedeling te bekamp. Dieselmotors het ’n kleiner koolstofspoor as petrolvoertuie. Ongelukkig was Duitse vervaardigers nie heeltemal eerlik oor uitlaatgasse nie en is die gesondheidsgevare van dieseluitlaatgasse onderskat.
Duitse howe het bepaal dat stede ouer dieselvoertuie mag verban en in stede waar besoedelingsvlakke besonder hoog is, moet ouer dieselmotors verban word.
Ouer (pre-2009) dieselmotors is eerste in die Duitsers se visier. Tog is die motorbedryf die ruggraat van Duitsland se reuse-ekonomie en sal die politieke wil waarskynlik ontbreek om druk op ’n €400 biljoen-industrie te plaas.
Verskeie vervaardigers het aangedui dat dieselkragbronne in passasiersmotors uitgefaseer sal word ten gunste van klein petrolkragbronne.
Hierdie hofuitsprake sal na verwagting mettertyd ook ’n invloed op ander Europese stede hê.
As Suid-Afrikaners moet ons besef dat die Duitse hof niks met ons te doen het nie. Dieselvragmotors, -bakkies en dieselbrandstof sal nog vervaardig word.
Ons fokus op besoedeling en die beperking van uitlaatgasse is dekades agter Europese teikens.
In alle waarskynlikheid sal hierdie verwikkelinge tot Suid-Afrikaanse kopers se voordeel strek aangesien vervaardigers iets sal moet doen met hul onderdele, kragbronne en vervaardigingtoerusting. Derdewêreldlande is natuurlik die ideale plek om hiervan ontslae te raak. Die aanvraag na dieselmotors het reeds met meer as 30% in Europa afgeneem en daar is byna geen gebruikte waarde in ouer dieselmotors nie.
Dink net watter goeie sakegeleenthede daar vir Suid-Afrikaners op die horison lê.



