CrimeNews

Vermeende reeksinbreker moet sy lot in Modimolle-hof aanhoor

Maluleka is in Junie in ’n woonhuis deur die polisie in hegtenis geneem. Hy het onder ’n sitkamerbank vir die polisie probeer wegkruip, is vroeër berig.

’n Vermeende reeksinbreker van Bela-Bela se hofsaak is na die Modimolle-streekhof oorgeplaas nadat hy met 21 sake van huisbraak en diefstal verbind is.

Die voorvalle het volgens die polisie sedert Mei in die Bela-Bela-omgewing plaasgevind.

Steve Maluleka (20) het op Donderdag 27 September weer in die Bela-Bela-landdroshof op die aanklagte verskyn.

Maluleka is in Junie in ’n woonhuis in Van Stadenstraat naby die Warmbad-rolbalbaan deur die polisie in hegtenis geneem. Hy het onder ’n sitkamerbank vir die polisie probeer wegkruip, het Die Pos vroeër berig.

Sy saak word weer op Dinsdag 23 Oktober in die streekhof hervat.

Twee ander verdagtes wat glo saam met Maluleka misdade gepleeg het, Kobus Pholoba (27) en Shimane Monageng (19), is kort daarna in die township in hegtenis geneem.

Pholoba en Monageng word volgens die polisie elk met vier sake van huisbraak en diefstal verbind.

Daar word beweer dat Monageng voor sy inhegtenisname vir die polisie gevlug en onder ’n bed in ’n townshiphuis probeer wegkruip het.

Sers. Frans Sekgobela, ondersoekbeamp-te, het vroeër gesê die drie het nooit lank op dieselfde plek gewoon nie en veral tuisgegaan in die leë Heropbou- en Ontwikkelingsprogramhuise (HOP-huise) in Uitbreiding 9.

Monageng is in Julie ’n vonnis van drie jaar tronkstraf opgelê, wat opgeskort is vir vyf jaar, op voorwaarde dat hy nie weer misdaad pleeg nie.

Hy is egter ’n week ná die vonnis weer in hegtenis geneem nadat hy glo kos in die township gesteel het, lui die klagstaat.

Pholoba se saak het ook op Donderdag 27 September in die hof voortgeduur, waarna sy saak na Dinsdag 9 Oktober uitgestel is sodat die hof kan bepaal wanneer sy saak na die streekhof oorgeplaas sal word.

Monageng het op Woensdag 3 Oktober in die hof verskyn. Sy saak is uitgestel na Donderdag 8 November vir verhoor. Al drie verdagtes is steeds in aanhouding.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button