
Tweefontein-inwoners buite Bela-Bela kan nou rustiger slaap nadat die Bela-Bela-polisie drie buitelanders, wat met diefstalgevalle in die omgewing verbind word, in hegtenis geneem het.
Buurtwag- en veiligheidslede van lodges moniteer al geruime tyd dié omgewing weens die klomp diefstalvoorvalle wat die afgelope ruk plaasgevind het. Van dié lede het na verneem word die polisie gehelp om die drie verdagtes aan te keer.
Kapiri Makusha (41), Edmore Chauke (29) en Edmore Moyo (29), Zimbabwiese immigrante, het op Vrydag 28 September vlugtig in die Bela-Bela-landdroshof verskyn op klagte van huisbraak en diefstal.
Hulle word luidens die klagstaat met ’n diefstal verbind nadat hulle op Vrydag 21 September by ’n huis in die omgewing ingebreek het.
Makusha en Chauke het luidens die klagstaat ten tyde van die diefstalgevalle in Soshanguve, Pretoria, gewoon terwyl Moyo in die Brits-omgewing gewoon het. Hulle bly in aanhouding.
Hulle saak is na Donderdag 18 Oktober uitgestel om aansoek om borgtog te doen.
- Die Pos het by die polisie verneem dat die drie moontlik met ander diefstalgevalle in die omgewing verbind kan word.



