
Karel Niewenhuis, Vryheidsfront Plus: adjunkprovinsiale leier, skryf:
Ek verwys na die berig “Raadslede saboteer glo dienslewering” in Die Pos van Vrydag 12 Oktober 2018.
Belastingbetalers aan die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit kan met reg verontwaardig wees oor die inhoud van die artikel. Indien raadslede die raad se werkverrigtinge ondergrawe, is dit ’n onverskoonbare toedrag van sake.
Ongeag daarvan dat hierdie munisipaliteit ’n koalisie is van politieke partye, behoort dienslewering ’n gemeenskaplike doelwit te wees. Inwoners gee aan raadslede mag wat nie misbruik kan word om die een party teen die ander af te speel of te ondermyn nie. Die minste wat inwoners van raadslede kan verwag, is om vir vergaderings op te daag. Wanneer nie een raadslid van ’n party ’n vergadering bywoon nie, soos die geval met die ANC tydens die jongste vergadering, is hulle plig geen prioriteit nie en kan hulle met rede van dwarsboming van dienslewering verdink word. Bo alle twyfel kan gestel word dat die ANC bewus was van die vergadering, maar van die geleentheid gebruik maak om ander raadslede as onbekwaam af te maak.
Geen kworum beteken belangrike aangeleenthede moet op die langebaan geskuif word; ’n instansie wat R280 miljoen net aan Eskom skuld, vereis ’n ondubbelsinnige spanpoging. Weer eens beklemtoon die voorval die noodsaaklikheid van lojale, nugterdenkende en stabiele leiers. Raadslede word immers met besluite vertrou wat elke inwoner se daaglikse bestaan ten nouste raak.
Voorts vind ek dit jammer dat die VF Plus, hoewel volledig deel van die koalisie, nie ten opsigte van die bywoning van die betrokke vergadering vermeld word nie. Veral in die lig daarvan dat die VF Plus die koalisie moontlik gemaak het en getrou vergaderings bywoon. Raadslede Johann Prinsloo en Tinus Botha verdien vermelding in dié verband. Kiesers moet daarop gewys word dat daar nog beginselvaste raadslede is wat hul verpligtinge nakom en die belange van die gemeenskap vooropstel.



