
Lede van die Modimolle- en Bela-Bela-polisie het verlede week hul misdaadvoorkomingswerk na Mamelodi, Pretoria, uitgebrei om ’n verdagte buitelander aan te keer.
Die verdagte, Bodia Gumbo (34), word verbind met ’n inbraak by die Mooiplaas Trou & Funksievenue buite Modimolle, het ’n woordvoerder van die polisie gesê.
Buurtwag,- en gemeenskapspolisiërings-forumlede (GPF) van Bela-Bela het die polisie gehelp om Gumbo op Maandag 15 Oktober in hegtenis te neem, het die woordvoerder gesê. Die polisie het tydens sy in hegtenisname vermoedelik gesteelde items by hom gevind.
Gumbo is met 19 huisbraaksake in die Lephalale-omgewing verbind en tot 12 jaar tronkstraf gevonnis. Hy was volgens die polisie tydens sy onlangse inhegtenisname uit op parool. Gumbo word ook met inbrake in die Dorset-omgewing, noord van Vaalwater, verbind. Hy het reeds in die Modimolle-streekhof verskyn op aanklagte van huisbraak en diefstal en die besit van gesteelde goedere.
Hy word ook daarvan aangekla dat hy onwettig in die land is.
Hy verskyn weer op Maandag 5 November vir sy borgtogaansoek en bly tot dan in aanhouding.



