Local newsNews

Wiets gee raad aan Vaalwater se sakelui

Betrokkenheid van die hele gemeenskap is noodsaaklik en ’n sakekamer behoort om eintlik ’n gemeenskapsorganisasie te wees.

Die moontlikheid om ’n sakekamer vir Vaalwater op die been te bring, is op Dinsdag 16 Oktober bespreek.

Dr. Andries Nel, spesialis in gesondheidsorg in Vaalwater, het Wiets Botes, voorsitter van die Waterberg-sakekamer in Modimolle, genooi om die kennis wat hy oor die jare by die Waterberg-sakekamer opgedoen het met die Vaalwater-gemeenskap te deel.

Botes het aanbeveel dat betrokkenheid van die hele gemeenskap noodsaaklik is en dat ’n sakekamer eintlik ’n gemeenskapsorganisasie behoort te wees. Die doel daarvan, het hy gesê, is om geld in die dorp te hou sodat almal, ook die minderbevoorregtes, daarby kan baat.

Botes se raad aan die teenwoordiges was dat ’n sakekamer ’n adres nodig het met ’n telefoonnommer en aktiewe webwerf.

Die Waterberg-sakekamer se lede vergader maandeliks. Een algemene jaarvergadering vind plaas en ’n nuwe bestuur word elke tweede jaar verkies, het hy gesê.

Hoewel die sakekamer apolities is, is die ledebyeenkomste in Modimolle al deur die provinsiale regering verteenwoordig, het Botes gesê.

Die Waterberg-sakekamer bestaan uit 180 lede en 10 bestuurslede. Botes het gesê dié sakekamer is ook by die organisasie Sakeliga geaffilieer. Sakeliga het tans ongeveer 12 000 lede en kan in die toekoms ’n beter bedingingsmag vir groot probleme in gemeenskappe bied.

Botes het aanbeveel dat Vaalwater eers as subkomitee by die Waterberg-sakekamer aansluit met ’n ooreenkoms vir samewerking en dat daar ’n groot poging vir werwing van lede vir die Sakeliga moet wees.

Hy het gewaarsku dat munisipaliteite op die rand van bankrotskap is en dat hy groot probleme vir die toekoms voorspel. Botes het die dringendheid van die versoek om by die Sakeliga aan te sluit, beklemtoon. Hy het verder gesê lede van die sakekamer hoef nie noodwendig groot ondernemings te hê nie, maar dat die hele gemeenskap lede behoort te wees.

Botes het daarop gewys dat ’n sakekamer potensiaal het vir sakegeleenthede, maar dat die verantwoordelikheid om dit te skep, by elke individu lê.

Hy het die gemeenskap aangemoedig om aanlyn by Central Supplier Databasis (CSD) te registreer en tenders in te dien. Hy het ook gesê die “dik boek” vir huurkontrakte en sakeplanne moet geduldig en deeglik deurgewerk word. Hy het ook aanbeveel dat realistiese ooreenkomste vir betaling noodsaaklik is.

Die Waterberg-sakekamer se poging om Eskom te verhoed om die kragtoevoer na verskeie groot dorpe in die streek op te skort, het die sakekamer sowat R500 000 aan regskostes gekos, het Botes gesê.

“Marlene van Staden, burgemeester, doen goeie werk en dien die gemeenskap soms ten koste van haar politieke posisie, maar geen gemeenskap sal oorleef sonder kragtoevoer nie. Amerika gaan nie aangehardloop kom nie, ons sal moet saamwerk.”

Die gemeenskap het saamgestem om ’n tussentydse komitee te verkies, wat aan-vanklik deel van die Waterberg-sakekamer sal wees. Jaco de Villiers, prokureur, is as koördineerder verkies met Hannes Gouws, Danie Pieterse, Sarita Mostert, Christie Steyn, Paul du Pisanie en Andries Nel as stigterskomiteelede.

Die stigterskomitee het hul eerste vergadering op Dinsdag 22 Oktober gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button