Ongeluk eis man wat pa sou word
“My hart is stukkend. Hoe kan ’n mens aangaan? Dit is so ’n geweldige skok.”
’n Jong man van Modimolle wat binnekort pa sou word, is Woensdagnag 17 Oktober in ’n motorongeluk oorlede.
Die 32-jarige Eugene “Geno” Paladino was omstreeks 22:00 op pad terug huis toe toe hy in die Thohoyandou-omgewing teen ’n bees en daarna ’n boom gebots het, het sy geskokte ma, Guisanta Paladino, gesê. Haar seun is op slag oorlede.
Hy en sy vriendin, Susan van der Walt van Bela-Bela, se seuntjie word in Januarie gebore. Hy het ook ’n tienjarige dogtertjie, Chrisabelle.
“My hart is stukkend. Hoe kan ’n mens aangaan? Dit is so ’n geweldige skok,” het ’n verslae Guisanta gesê.
Eugene, wat werk vir ’n konstruksiemaatskappy in Thohoyandou gedoen het, is in Modimolle gebore en het daar grootgeword.
Sy roudiens is op Dinsdag 23 Oktober gehou.
Hy laat benewens sy ma, vriendin en dogtertjie, ook sy broer en suster, Shantel Deetlefs en Dennis Strydom, agter.



