Local newsNews

Bekende Modimolle-sakeman oorlede

“My pa was ’n stil man en het getrou vyf keer per dag gebid.”

Hassim Bera, die eienaar van Beras Wholesalers in Modimolle, is op 75-jarige ouderdom oorlede.

Bera was ’n bekende sakeman in die dorp en was 30 jaar lank betrokke by dié onderneming wat hy in 1989 by sy pa oorgeneem het.

Volgens sy seun, Zain Bera, is sy pa op Dinsdag 9 Oktober in die Garden City-hospitaal in Johannesburg oorlede nadat hy vir tien dae lank opgeneem is weens longontsteking. Hy is die volgende dag in Modimolle begrawe.

Bera is in Silverton gebore, maar het in Modimolle grootgeword. Hy het ook ’n tyd lank in Bela-Bela gewoon.

“My pa was ’n stil man en het getrou vyf keer per dag gebid. Hy was streng met ons kinders en het ons nooit toegelaat om te mors nie. Hy was baie betrokke in sy gemeenskap en het ’n kliniek in Phagameng laat bou wat na sy ma, Fatima Bera, vernoem is. Hy het ook talle boorgate in die township laat boor. Ons kliënte is in trane as hulle hoor van sy afsterwe. Hy was baie geliefd,” het Zain gesê.

Bera laat sy vrou, Hazeera Bibi, sy seuns, Zain, Siraaj en Muhammad Bera, sowel as sy dogter, Jameela Hafajee, agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button