
Barnard is op Maandag 10 September in hegtenis geneem nadat hy vrywillig by die Vaalwater-polisie aangemeld het. Borgtog is aan hom toegestaan nadat hy bykans ’n week in aanhouding was.
Die saak spruit uit ’n beweerde onderonsie met die insittendes van ’n voertuig op Saterdag 1 September op die Heuningfonteinpad.
Die hof het gehoor dat ’n aankomende voertuig van die pad gery het omdat Barnard en sy vrou, Kathleen, na bewering skuins agter mekaar op die grondpad gery het. Die staat het voorts beweer dat Barnard twee van die vier insittendes van die ander voertuig aangerand en beledig het.
Die 59-jarige Barnard verskyn op verskeie klagtes insluitend aanranding met die doel om ernstig te beseer, die rig van ’n vuurwapen en crimen injuria. Barnard ontken die klagtes teen hom.



