Local newsNews
Oudraadslid van Modimolle sterf
Inwoners van Modimolle het die afgelope week afskeid geneem van Willie Fourie (79) wat diep spore in die dorp getrap het in die 22 jaar wat hy daar gewoon het.
Fourie is op Maandag 29 Oktober ná ’n beroerte dood. Hy het kort vantevore ’n hartomleidingsoperasie gehad.
Fourie het van 1994 tot 1999 as streekland-dros in die ou Nylstroom, Naboomspruit, Ellisras en Thabazimbi gedien. Hy was ook van 2006 tot 2011 ’n raadslid op die dorp en het op die kerkraad van die NG Waterberg-gemeente gedien.
Ná sy aftrede in 1999 het hy steeds afloswerk vir die departement van justisie in Tzaneen en die Venda-streek behartig. Hy en sy vrou, Martie, het in 2016 na ’n aftreelandgoed in Eldoraigne, Pretoria, verhuis.
’n Roudiens sal aanstaande week in Pretoria gehou word. Teen druktyd was die reëlings nog nie gefinaliseer nie.
Fourie laat sy vrou, Martie, en drie seuns, Willie, Conrad en Andries, agter.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!



