Local newsNews

Groot dele van Suid-Afrika steier onder ernstige droogte

Dis ’n droeë, uitmergelende somer vir groot dele van Limpopo met talle boere wat vee en wild verloor as gevolg van te min weiding.

Hoewel groot dele van die Die Pos se lesersgebied reeds goeie vroeë reënbuie ontvang het, gaan gebiede verder noord soos Lephalale, Baltimore, Steenbokpan, Swartwater, Marken en Baviaanspoort steeds gebuk onder ’n moordende droogte.

Die AfriForumtak in Modimolle, saam met boere van die gemeenskapspolisiëring-sektor 3 en Boere in Nood, het reeds meer as 20 vragte voer aan dié droogtegeteisterde gebiede gestuur. Voer is uit Radium, Settlers, Tuinplaas, Modimolle en Bela-Bela gestuur, het James van Zyl van die burgerregte organisasie se plaaslike tak gesê.

“Voer is ook so ver as Ermelo, Brits en Bethal gaan haal en afgelaai vir diere wat veg om oorlewing. Baie wild het reeds gevrek van die droogte en beeste moes verkoop en verskuif word na ander gebiede in die land waar daar ’n kans op oorlewing is,” het hy gesê.

“Een van die wildboere het reeds 52 stuks wild oor die afgelope twee weke verloor en daar vrek nog daagliks diere van die honger en dors.”

Van die gebiede het na verneem word reeds reën gekry, maar dit beteken nie dat kos onmiddellik beskikbaar is nie.

Boere in Nood,’n niewinsgewende organisasie, het sedert 2015 reeds sowat 4 000 boere wat gebuk gaan onder vernietigende droogtes en natuurrampe bygestaan. Elizabeth Pretorius van dié organisasie het gesê daar is talle boere vanuit 53 distrikte regoor die land wat dringend hulp nodig het.

“Limpopo, Noordwes, die Suid- en Oos-Kaap is al jare lank in die greep van die droogte vasgevang. Baie boere is geldelik geknak en die banke wil hulle nie meer help nie. Dit is nou net ’n kwessie van oorlewing vir hierdie boere en pogings word aangewend om hulle op hul plase te hou.”

Boere in Nood bring die skenkings na ’n sentrale punt in die bepaalde omgewing waar die boere dit kan gaan haal. Begunstigdes se identiteite word anoniem gehou, tensy hulle anders besluit, het Pretorius gesê.

Boere wat hulp van Boere in Nood verlang vul vooraf ’n aansoekvorm vir droogtehulp in en stuur dit aan die relevante persoon omdat die organisasie geoudit word en rekords moet hou. Boere in Nood vra geen ledegeld nie, het Pretorius gesê. Mense wat wil bydra om boere te ondersteun, kan vir Tommie Kloppers bel by tel. 062 300 2308 of ’n e-pos stuur na boereinnood@gmail.com  of Carina@boereinnood.co.za. Daar is ook ’n Facebook-groep waar ondersteuners kan aansluit.

Van Zyl het die nood vir verdere hulp beaam. “Ons het steeds hulp met voer nodig. Die vervoerkoste is een van die grootste uitdagings omdat dit baie duur is om die trokke te laat ry,” het Van Zyl gesê.

AfriForum het ’n noodfonds vir droogtehulp waarin heelwat mense reeds skenkings maak om te help om ten minste net die dieselkoste te dek,” het hy gesê.

Die rekeningnommer vir dié fonds is AfriForum NPC, FNB Centurion (261 550), rekeningnommer 623 4989 8398.

Vir meer inligting, bel vir Van Zyl by tel. 082 575 6902.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button