
Die Modimolle-polisie en die gemeenskapspolisiëringforum (GPF) se sektor drie op die plase, werk volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, doeltreffend saam.
“Ons is baie dankbaar vir die hulp wat hulle verleen,” het hy gesê.
Lede van sektor drie het die afgelope maand sowat 1 864 km met hul eie voertuie gery om plase te patrolleer. Sou ’n mens die som maak teen R3 per kilometer, het dit hulle R5 592 gekos. Daar is 93 uur hieraan afgestaan wat teen R300 per uur uitwerk op R27 900. Die totale beraamde koste beloop R33 492, het Findlay gesê.
“’n Mens moet ingedagte hou dat die lede dit in hul eie tyd doen terwyl hulle boerderye en ondernemings het om na om te sien,” het hy gesê.
Die GPF-lede word nie vergoed vir hul uitgawes nie en dra self die koste.
Die afgelope maand het lede van sektor drie by 11 veldbrande gehelp, op een noodgeval gereageer en vyf motorongelukke aangemeld en noodhulpdienste ontbied. Hulle het ook in vyf gevalle bygedra om vermiste en gesoekte persone op te spoor, inligting te versprei oor 21 voertuie wat verdag of gesteel is en vier keer saam met die polisie aan misdaadvoorkomingsoptredes deelgeneem. Lede het sewe plase besoek waar ouer mense woon en vyf gevalle waar lewende hawe afgedwaal het, aangemeld.
Die sektor het ook deur blitsige verspreiding van ’n boodskap deur WhatsApp daartoe bygedra dat ’n verdagte in hegtenis geneem is en daar op ’n Toyota Hilux beslag gelê is, het Findlay gesê.



