LifestyleRecipes

Lus om vanaand ’n heerlike pastagereg te maak?

Hierdie is ’n smullekker resep wat ekonomies is en vir baie mense kan kos gee.

Charmaine Nicholson van Mookgophong is ’n veelsydige vrou met baie stokperdjies.

In haar vrye tyd doen sy houtwerk en het al self ’n tafel vir haar plante gemaak met rakke en al. Sy maak ook juwele, is mal oor kuns en het ’n passie vir fotografie en die natuur. ’n Ander groot liefde van haar is natuurlik om kos te maak.

Sy is in Pretoria gebore, het in Pinetown in KwaZulu-Natal skoolgegaan, ’n rukkie in Mokopane gewoon en die afgelope 25 jaar woon sy in Mookgophong. Sy is die vriendelike sekretaresse van die hoof van Hoërskool Hans Strijdom in die dorp. Haar vrolike en uitbundige lag is aansteeklik en ’n mens kan haar altyd van ver af hoor.

Nicholson het aan Die Pos gesê sy hou baie daarvan om kerriedisse te maak en om “boerekos” te kook. ’n Ander gunsteling is pasta. Sy het ingewillig om een van haar “geheime resepte” met Die Pos te deel. “Dit is ’n geleende resep maar ek het dit aangepas, of liewer, byna heeltemal verander. Dit is ’n smullekker resep wat ekonomies is en vir baie mense kan kos gee,” het sy vertel.


Lekker pastaresep:

Kook een pak pastaskulpies volgens die aanwysings op die pak.
Spoel af en hou eenkant.
Braai die volgende in olyfolie in ’n diep pan:

  • 1 of 2 groot uie, fyn gesny
  • Groen soetrissie (indien verkies)
  • Knopiesampioene soos nodig
  • 2 t fyngemaakte knoffel
  • ’n Goeie skeut gemengde kruie
  • Ham (ongeveer drie skywe per persoon) in blokkies gesny

Wanneer die uie deurskynend en sag is, meng die pasta versigtig met die vleismengsel (sommer in dieselfde pot).

Plaas dit terug op die stoof oor ’n lae hitte en voeg twee houertjies suurroom by (meer kan gebruik word).

Voeg sout en peper na smaak by.

Onthou die parmesaankaas! Strooi ’n bietjie bo-oor die gereg of sit in ’n bakkie op die tafel.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button