Local newsNews

Broodboom spog met uitsonderlike blom

Nico Malan, ’n inwoner van Gholfpark in Mookgophong, was heel verbaas toe hy die eerste keer die interessante blom van een van sy Cycas revoluta-broodbome opgemerk het.

Volgens Malan het die broodboom, wat reeds 15 jaar oud is, vir die eerste keer geblom terwyl hulle normaalweg elke drie tot vier jaar blom.

Die blomme is tweeledig, manlik of vroulik en die bestuiwing van die plante vind gewoonlik deur insekte en wind plaas. Die vroulike blom is veeragtig en vorm later ‘n styfgepakte saadknop. Die manlike plant se saadknop het ’n pynappelvormige kegel. Hoewel die revoluta baie bekend in tuine van die omgewing is, is die plant inheems aan Japan en die Ryuku-eilande.

Malan het manlike en vroulike plante in sy tuin en het ’n saailing ontdek wat deur die bestuiwing van die twee plante saad gemaak en ontkiem het.

“Ek het nog altyd plante geoes deur die ‘babaplante’ aan die stam te gebruik. Dit is die eerste keer dat die saad vanself opgekom het,” het hy gesê.

Om broodbome te oes, word die suier wat aan die onderkant van die volwasse plant se stam uitgroei, versigtig verwyder sodra dit reeds twee of drie blare gevorm het. Dit kan gedoen word deur die grond rondom die suier te verwyder. Wees versigtig om nie die jong wortels te beskadig nie. Sny dan die suier los van die moederplant en behandel die wonde met hormoonpoeier. Plaas die suierplant in ’n pot wat gevul is met ’n mengsel van kompos en riviersand. Maak seker die mengsel is altyd koel en vogtig tot daar genoeg wortels gevorm het.

Broodbome is oor die algemeen stadige groeiers en sommige spesies verkies gefilterde skadu. Daar is egter spesies wat volson kan hanteer. Die meeste broodboomspesies het nie baie voeding nodig nie en is redelik goed bestand teen siektes.

Wat baie mense egter nie weet nie, is dat die revoluta-broodboom baie giftig is en dodelik vir mens en dier kan wees. Die saad bevat die hoogste vlak van sikasientoksien. Sikasien veroorsaak gastro-intestinale irritasie en in hoë dosisse kan dit dit tot lewerversaking lei. Eetbare sago kan egter uit die stam van die boom vervaardig word.

Indien enige hoeveelheid van die plant ingeneem word, moet daar onmiddellik mediese behandeling gekry word. (Bykomende bron: Wikipedia)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button