CrimeNews

Twee verdagte motordiewe in hof

Al hoe meer gesteelde voertuie word deesdae in die Bela-Bela-omgewing terug-gevind, danksy spoedige reaksie van die polisie en veiligheidsgroepe.

Vier verdagtes is die afgelope twee maande in hegtenis geneem weens die besit van vermoedelik gesteelde voertuie. Sake gaan voort teen twee van hulle, maar die sake teen die ander twee is teruggetrek.

Die sake teen Tebogo Gordon Maluleka (47) en Gert Mohlokweng (29) is steeds aan die gang.

Konst. Pieter Scheepers, ondersoekbeampte, het aan Die Pos gesê bydraes van veral lede van die Makanyane Anti Poaching-eenheid, asook die Kariba-buurtwag, het ’n groot rol in die inhegtenisnames gespeel.

Die polisie het beslag gelê op ’n vermoedelik gesteelde Nissan-bakkie, ’n Toyota Corolla en ’n BMW.

Maluleka het in Oktober in die Bela-Bela-landdroshof verskyn. Borgtog is aan hom toegestaan. Hy is aangekla vir die besit van die Nissan-bakkie wat glo in 2017 gesteel is. Sy saak kom weer op Vrydag 7 Desember voor.

Kongkong Manoko van Pretoria, volgens die polisie die regmatige eienaar van die bakkie, het reeds die voertuig uitgeken. Hy het gesê dat hy beïndruk is met die polisie en veral met Scheepers se speurwerk.

Mohlokweng moet weer op Dinsdag 11 Desember in die hof verskyn in verband met die Corolla waarin hy in November buite die dorp aangekeer is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button