Brand by Bela-Bela-Wimpy betyds geblus
Die Bela-Bela-brandweerdienste het volgens ooggetuies eers ongeveer 45 minute nadat die brand uitgebreek het, op die toneel opgedaag.
Die Wimpy-personeel van die Bela Mall in Bela-Bela het die afgelope week ’n sug van verligting geslaak nadat ’n hewige brand wat in die restaurant se kombuis uitgebreek het, betyds geblus kon word.
Johnny Grahan, eienaar, het aan Die Pos gesê warm olie het op Woensdagoggend 14 November onverklaarbaar aan die brand geraak.
Die restaurant is vir veiligheid dadelik ontruim.
Die goeie en voldoende brandbestrydingtoerusting was deurslaggewend in die suksesvolle blus van die brand.
Die skade kon baie groter gewees het as die personeel nie so flink opgetree het nie. Die Bela-Bela-brandweerdienste het volgens ooggetuies eers ongeveer 45 minute nadat die brand uitgebreek het, op die toneel opgedaag.
Die vlamme is ná ’n kort tydjie onder beheer gebring. Niemand is in die voorval beseer nie.
“Hoewel ons personeel vooraf opleiding ontvang om noodgevalle te hanteer, is ’n mens in werklikheid nooit volkome voorbereid vir sulke gebeure nie,” het Grahan gesê. “Hulle het egter die situasie goed gehanteer.”
Omstanders het buite die gebou saamgedrom, maar is deur veilig-heidswagte op ’n veilige afstand gehou, het Grahan gesê.
Teen Donderdag 15 November was die kombuis skoon en alles weer in ’n werkende toestand. Die reuk van gebrande olie en stikstof van die brandblussers kon egter nog geruik word en daar moes eers gewag word totdat die lug weer suiwer was.
Dit gemeenskap se hulp en ondersteuning was merkwaardig, het Grahan gesê.
Hy het veral sy dank uitgespreek teenoor die bestuurder van Clicks se afleweringsvoertuig wat dadelik alarm gemaak het toe hy rook sien, Bela Mall se veiligheidsbeamptes, Greyling Lamprecht, sentrumbestuurder en Willie Claassens, sakeman, wat toevallig in die winkel was toe die brand uitgebreek het. Hy het ook lede van die gemeenskap wat gehelp het, bedank en ook die kliënte wat na die tyd teruggekeer het na die winkel om hul rekeninge te kom vereffen. “Julle is staatmakers.”
Wimpy het op Vrydag 16 No-vember weer sy deure vir die publiek geopen.



