
Inwoners het vandeesweek bespiegel dat die skrif aan die muur is vir die raad van die Modimolle-Moogkophong-munisipaliteit met sprake dat dié raad ontbind gaan word.
Die munisipaliteit het op Maandag 19 November ’n brief van Jerry Ndou, LUR vir die departement van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA) ontvang waarin hy sy voorneme om die munisipaliteit onder artikel 139(c) van die grondwet te plaas, bekend maak.
Art. 139(c) beteken dat die raad ontbind word en raadslede uit hul poste onthef word. Die raad sal dan vir ’n tydperk deur CoGHSTA op provinsiale vlak bestuur word waarna ’n tussenverkiesing gehou sal word om ’n nuwe raad saam te stel.
Die ANC én die EFF het verlede week mosies van wantroue teen die DA-beheerde raad ingedien. Die ANC het Marlene van Staden, burgemeester, se kop geëis en die EFF dié van die hele politieke bestuurspan — die burgemeester, Dingaan Motshwene (speaker) en Hercules Louw (hoofsweep). Die DA blameer dié mosies op die uitslag van ’n forensiese ondersoek wat bykans voltooi is en lede van dié twee partye kan impliseer.
Van Staden het egter nog nie die stryd gewonne gegee nie.
“Die burgemeester het sewe dae om vertoë te rig, waarna die uitvoerende raad oor die besluit kan besin,” het sy in ’n mediaverklaring gesê
“Die raad sal eers ontbind word wanneer die provinsiale uitvoerende raad ’n geskrewe kennisgewing aan die minister van CoGHSTA en die nasionale raad van provinsies gestuur het en nie een van die twee binne 14 dae van ontvangs die besluit teenstaan nie.”
Die munisipaliteit word reeds etlike maande lank onder artikel 139 (b) deur ’n administrateur bestuur.
Die DA, wat sewe setels verower het in die 2016 munisipale verkiesing, is in beheer van die munisipaliteit danksy die samewerking met die VF-Plus (twee setels) en die EFF (ses setels). Die ANC het 13 van die raad se 28 setels wat hulle die meerderheid gee indien gestem word, tensy die ander partye onderling ooreenstem.
Die DA het hewig te velde getrek teen die besluit om die munisipaliteit te ontbind. James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, het vandeesweek in mediaonderhoude gesê die besluit om die raad te ontbind is polities gemotiveerd en dat daar nog nie genoeg tyd was sodat die stappe wat reeds deur die provinsie geneem is, genoegsame veranderinge kon meebring nie. “Ons glo dat ons reeds veranderinge in die munisipaliteit meegebring het en ons maak vordering om oplossings vir die groot uitdagings te vind.”
Rufus Mahoro, hoofsweep van die ANC, het gesê dit is voortydig om nou kommentaar te lewer. Lebogang Monaheng, streeksvoorsitter van die EFF, het teen druktyd nog nie kommentaar gelewer nie.
Johan Prinsloo, raadslid van die VF-Plus, het gesê hulle het die munisipaliteit in 2016 met groot bestaande probleme ontvang.
“Daar is talle herstelplanne op die tafel. Ons wil dit graag implementeer,” het hy gesê. “Dit is soos ’n sake-onderneming. Dit is moeilik om te groei as jy nie bedryfskapitaal het nie,” het hy verduidelik.
Wiets Botes, voorsitter van die Waterberg-sakekamer, het gesê die sakekamer het gevra dat die raad ontbind word.
“Dit is nou R70 miljoen se skuld later wat die besluit eers geneem word,” het hy gesê.
Die sakekamer, wat by Sakeliga geaffilieer is, is in ’n hofstryd gewikkel om te verhoed dat Eskom die krag afskakel weens uitstaande skuld van meer as R300 miljoen. Die hof het die afgelope week in Sakeliga se guns beslis teen Eskom wat Musina se kragtoevoer wou afsny. Die sakekamer vergader op Donderdag 22 November met hul regspan.
“Ons is bekommerd oor die moontlike ontbinding van die raad in terme van art. 139 (1) aangesien dit ’n verkiesing tot gevolg sal hê wat weer net die mag aan ’n nuwe raad sal gee. Ons oorweeg om voort te gaan met ons bestaande art. 139(5) aansoek wat die mag uit die raad kan neem en die munisipaliteit onder bestuur van die tesourie kan plaas,” het Botes gesê.



