CrimeNews

Weet jy dalk aan wie dié hemp behoort?

“’n Veiligheidsbeampte het drie jong seuns buite die geboue gesien en stilgehou omdat hulle verdag gelyk het. Die oomblik toe hulle hom sien, het hulle die hasepad gekies.”

Drie vermeende diewe het op Sondag 18 November konsternasie op die straathoek by Minnaarstraat, Luna- en Pretoriaweg in Bela-Bela veroorsaak nadat hulle by vier sakepersele probeer inbreek en duisende rande se skade aangerig het.

Numeri-rekenmeesters, Cleopatra Beauty Clinic, Mad Coffee en Sanlam se kantore het deurgeloop. ’n Stoorkamer wat deur Die Pos gebruik word, was ook op die boewe se lys.

Henry van der Merwe, ’n veiligheidsbeampte van die PRSS veiligheidsmaatskappy in die dorp, het die oggend teen ongeveer 11:00 toevallig verby die persele gery, het Martin van Blerk, ook van PRSS, aan Die Pos gesê.

“Henry het drie jong seuns buite die geboue gesien en stilgehou omdat hulle verdag gelyk het. Die oomblik toe hulle hom sien, het hulle die hasepad gekies.”

Van der Merwe het ondersoek ingestel en toe op die beskadigde eiendomme afgekom, het Van Blerk gesê.

Die drie, waarvan een kaal bolyf was, het in die rigting van die Reitzstraat-parkie gehardloop.

 

Vier persele in Bela-Bela het op een dag onder diewe deurgeloop. Op die foto is die skade wat aan die voordeur van die Mad Coffee-winkel aangerig is. Foto: Gemeenskappolisiëringsforum sektor 1 (GPF).

 

Die Bela-Bela-polisie was eerste op die toneel, gevolg deur lede van die plaaslike veiligheidsreaksiespan (RSRT).

Deur ondersoek is daar gevind dat die verdagtes ’n stoorkamer by Numeri se slot gebreek, maar niks gesteel het nie.

Hoewel daar nie by Cleopatra ingebreek is nie, is skoonheidsprodukte buite die gebou gevind.

Hulle het dit vermoedelik deur ’n oop venster beetgekry.

Gerhardus Lottering van Mad Coffee het gesê hy was die oggend by die koffiewinkel voordat hy kerk toe is.

Met sy terugkeer het hy op die gebreekte glasdeur afgekom en besef daar is by die winkel ingebreek.

Die diewe het kontant, kosvoorraad, drinkgoed en elektroniese items gesteel. ’n Kleinerige sweetpaktop, wat ver-moedelik aan een van die verdagtes behoort, is op die perseel gevind. Lottering vermoed dat die diewe oor ’n nuwe traliehek geklouter en só toegang tot die perseel verkry het.

Volgens Sanlam se personeel is die traliehek en hul glasvoordeur oopgebreek. Daar is egter niks uit die gebou gesteel nie. ’n Slot van ’n stoorkamer wat deur Die Pos gebruik word, is ook beskadig, maar niks is gesteel nie.

Die polisie ondersoek ’n saak van huisbraak en diefstal.

Gerhard Olivier, spanleier van RSRT, het by navraag gesê misdadigers is nou baie bedrywig in die dorp en omgewing en inwoners moet seker maak dat hul eiendom goed beveilig is. Inwoners moet ook sonder huiwering enige verdagte optrede aanmeld.

Olivier vermoed dat hierdie verdagtes moontlik by dwelms betrokke kan wees.

Vir navrae kan mense vir Natasja Kemp bel by tel. 078 777 7176 of vir Janes Boshoff by tel. 072 492 7087.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button