Die water is min en so ook talle inwoners se geduld.
Die afgelope week se versengende hitte het die situasie vererger. Daar is egter min oplossings om Modimolle se watertekorte te beredder.
Daar is eenvoudig nie genoeg water vir al die inwoners nie omdat die Donkerpoortdam se watervlak op 5,6% staan en geen bydrae kan lewer nie, sê die munisipaliteit.
“Ons doen wat ons kan om water by soveel moontlik inwoners uit te kry, maar dit is ’n groot uitdaging,” het Thabang Selemela, afdelingshoof van waterdienste, by navraag aan Die Pos gesê.
“Die dorp het baie vinnig uitgebrei. Ons sou die vraag na water wat ons nou het, na verwagting eers in 2025 bereik het,” het hy gesê.
Daar is geen water wat meer by Donkerpoortdam inloop nie. Die dam was drie jaar gelede laas vol.

Van die woongebiede in die dorp is reeds weke lank sonder water. Inwoners staan tou by openbare waterkrane soos dié in die munisipale begraafplaas om kanne en emmers te vul.
Verskeie inwoners met boorgate het krane teen hul heinings opgesit sodat ander inwoners ook daar water kan tap.
“Ons kan nie bad nie. Ons toilette stink want ons kan dit nie spoel nie. Ons huise stink. Daar is oral vlieë. Die mense loop bosse toe, maar dit is ook nou al ’n probleem,” het ’n moedelose vrou wat by die begraafplaas water wou tap, gesê. Dié krane is ook van tyd tot tyd leeg.
Volgens Selemela benodig die dorp 12 megaliter per dag. Magalies Water verskaf tans vier megaliter en die dorp se boorgate 1,5 megaliter. Die Donkerpoortdam lewer gewoonlik ook vier megaliter.
Een van die inwoners se frustrasies is dat hulle nie weet wanneer hulle water sal ontvang nie.
“Dit is vir ons moeilik om ’n skedule vas te stel omdat die watertoevoer van Magalies Water onvoorspelbaar is,” het hy gesê.
Op Dinsdag 20 November was die opgaardam en watertoring by Bosveldsig-aftreeoord op 2%, die opgaardam wat aan die middedorp, sakekern en omliggende woonbuurt water verskaf op 45% en die opgaardam in Phagameng op 0%. Volgens die munisipaliteit het die middedorp en uitbreiding 7 (Freedom Park) water ontvang, maar Phagameng en Uitbreidings 5,6,8,9, 10, 11, 12 en 13 se watertoevoer is onderbreek.
Vier watertenkers doen diens om water in uitbreiding 8,9 en 11 af te lewer.
Modimolle se ernstige waterkrisis, wat tot ’n brandpunt van konfrontasie kan lei, het ook die afgelope week op nasionale media dekking gekry. Daar is weer melding gemaak van die basiese dienste wat munisipaliteite aan inwoners moet lewer.
Volgens Marlene van Staden, burgemeester, werk hulle aan alternatiewe oplossings om die nood te verlig.



