Local newsNews

Beeste bulk in Bela-Bela se bo-dorp

Die trop het later die oggend wei-wei in die rigting van Laerskool Warmbad geloop en toe op die Alma-pad uitgeloop en in die veld verdwyn.

Dorpenaars van Bela-Bela moes op Maandagoggend 26 November twee keer kyk om seker te maak hulle oë bedrieg hul nie.

’n Trop van sowat 30 beeste het dié oggend rustig in die Apiesdoring-parkie reg oorkant die Nuwe Lewe Kerk onder die bome rondgedrentel sonder enige teken van ’n veewagter of eienaar.

Die parkie is die eiendom van die Bela-Bela-munisipaliteit en word heeltemal omring deur privaat wonings.

Die beeste het op die oog af geen sigbare brandmerke gehad wat kon aandui wie die eienaar is nie, het Die Pos tydens ons besoek gevind.

Die Pos kon ná dae se speurwerk steeds niemand vind wat weet aan wie dié trop beeste behoort nie.

Die trop het later die oggend wei-wei in die rigting van Laerskool Warmbad geloop en toe op die Alma-pad uitgeloop en in die veld verdwyn.

Rondlopervee is ’n taai tameletjie in Bela-Bela wat bykans maandeliks op die dorp se veiligheidsvergaderings bespreek word. Inwoners kla al jare lank dat vee veral op die R101-pad na Modimolle en die R516-pad na Settlers groot gevaar vir motorryers inhou. Vee sonder brandmerke wat ongelukke veroorsaak, belemmer ook polisieondersoeke omdat die eienaars dan nie opgespoor kan word nie, is al telkemale op dié vergaderings gesê.

Ingevolge die nasionale verkeerswet mag geen persoon vee op enige gedeelte van ’n openbare pad vrylik laat rondloop nie. Die wet bepaal voorts dat veewagters nie diere sonder toesig mag laat nie en dat plaaslike verkeersdepartemente rondlopervee kan verwyder. Volgens inligting van die Bela-Bela-polisie behoort inwoners ’n klag by die polisie te lê indien hulle rondlopervee opmerk wat ’n gevaar inhou of ’n steurnis veroorsaak. Nadat die regte stappe gedoen is, kan dit onder die aandag van die naaste skut gebring word, waarna reëlings getref kan word om die diere te verwyder. Bela-Bela se naaste skut is egter in Murrayhill buite Pretoria.

Volgens ’n woordvoerder van die departement van landbou bepaal wetgewing nie dat vee wat sonder brandmerke rondloop geskut mag word nie, maar slegs vee wat gevare inhou.

Vee-eienaars is welkom om die Towoomba landbounavorsingstasie buite die dorp te besoek vir meer inligting, het die woordvoerder gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Die Pos as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button