Klein Annabelle Streicher (6) van Heidelberg het verneem die poskantoordienste is vanjaar stadig. Sy het besluit om haar wenslysie via Die Pos na Kersvader te stuur. Gelukkig kan Oupa Fellies en Ouma Ronelle Felstead van Bela-Bela ook nou insae hê in hierdie versugting. Sy was immers heeljaar stroopsoet!
Die Klein Vyf-kleuterskool in Vaalwater se jaarlikse konsert is op Saterdag 1 Desember opgevoer. Die tema was Dieremaniere. Die piepklein een- tot tweejariges was die skatlike hasies, terwyl die driejariges gespring en gebons het soos paddas. Die groter vierjariges was kostelike muise en die vyfjariges was olifante. Daar was darem ’n paar blink vosperde ook te sien. Die diere het almal weer herinner hoe belangrik goeie maniere is, maak nie saak wie jy is nie.