Local newsNews

Plaashuis in brand verwoes

“Daar gaan ons dak!”

Ronnie en Celeste Glover, eienaars van Sediba Lodge buite Mookgophong, het op Maandagaand 10 Desember verslae gestaan en toekyk hoe hulle huis in ’n verwoestende brand tot as verbrand het.

Hulle was Maandagaand tuis toe daar omstreeks 19:00 ’n harde donderslag was. Volgens Ronnie het Celeste net gesê: “Daar gaan ons dak.” Hulle het aan die voorkant van die huis gaan ondersoek instel, maar niks vreemds opgemerk nie.

Toe hulle egter agterom stap, was die dak reeds in ligte laaie.

Die Glovers en plaaswerkers het dadelik probeer om die vlamme op die grasdak te blus en ook hulp ontbied. Bure het onmiddellik gereageer, maar gesukkel om die toegangshek na die lodge oop te kry.

Hulp is ook op alle noodgroepe gevra en mense met vuurvegters was gou daar om te help. Die brand het egter vinnig versprei en het Celeste se werkskamer met kwiltmasjiene en kunstoerusting in puin gelaat.

Gelukkig kon ’n paar meubelstukke, van Celeste se skilderye en gesinsfoto’s uit die kombuisgedeelte gered word. Die vlamme het só vinnig versprei dat die kluis nie verwyder kon word nie. Daar was ook nie tyd om enige ander persoonlike besittings uit die huis te verwyder nie.

Die brandweer van Modimolle en die weermag het later opgedaag en gehelp om die geboue wat naaste aan die huis is te beskerm.

Die Glovers se kinders en kleinkinders het die naweek op die plaas gekuier en weer Sondag vertrek. Sediba Lodge is ’n bekende en gewilde vakansieplek in die omgewing.

Die Glovers het Die Pos gevra om hulle dank uit te spreek teenoor almal wat so onbaatsugtig kom help het. Hulle waardeer dit opreg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button