Mymerings van lank gelede
In elke huishouding was daar ’n vriendelike vet oom wat in ’n stywe, rooi, warm Kersvaderpak gestop is.

Dit is met ’n warm gevoel dat ’n mens terugdink aan jou grootwordjare — geborge, versorg en geliefd.
Hoe Kersfees altyd die hoogtepunt van ’n jaar was en hoe ons as kinders ons verkyk het aan al die volksvreemde, maar mooi, Kersversierings wat sinoniem met die feestyd was.
In die laat vyftigs en vroeë sestigs was goud en silwer die antwoord as jy jou Kersboom getooi het, want ja, toe was blink hoogmode! Al die hout- en blikfiguurtjies wat nog saam met die 1820-Setlaars aangekom het, is weggepak. Alles moes nuut en blink wees.

Winkelvensters het van die tweede week in November hul Kersbaadjies aangetrek. Almal het in daardie tyd gaan “window shopping” doen. Daar was groot, groen dennebome belaai met nagemaakte sneeu soos in die koue lande, waar die tradisie vandaan kom. Dié is behang met baie silwer en goue balle, rooi en groen blink papierlinte (“streamers”), ’n spoggerige goue ster van blinkers op die bo-punt en baie pakkies met helder Kerspapier — hoofsaaklik rooi, groen, goud en silwer, toegedraai en geëtiketteer om vir Kersvader (wat alle tale magtig is) die saak onder die boom te vergemaklik. Daar was verdwaalde Lapland-takbokke en ’n geskenkbe-laaide slee om ons Afrika-kinders verder te verwar.
In elke huishouding was daar ’n vriendelike vet oom wat in ’n stywe, rooi, warm Kersvaderpak gestop is.
Sy aankoms is met groot afwagting en verwagting begroet. Vroeg in Oktober is die briefies immers al geskryf, want die pos na Lapland was stadig, met die versekering dat ons die afgelope jaar stroopsoet was en nog gaan wees. Wenslysies so lank soos jou pa se arm het hierdie verklaring vergesel.

In die daaropvolgende jare het ons Suid-Afrikaners ’n bietjie wegbeweeg van die slaafse navolg van ander lande se tradisies en het ons ’n eiesoortige blou en silwer Kersfees gehou. Die dennebome was nog steeds van plastiek, maar was nou wit. Yskristalle het ook hul opwagting gemaak. Vir die eerste keer het talle mense die wisselvorme van waterkristalle gesien. Die groot inkopiesentrums het begin om reusebome met duisende liggies op te slaan. Kliënte is aangemoedig om die aanskakel van die liggies-geleentheid by te woon. Vreemdelinge het sy aan sy gestaan en Kersliedere gesing by hierdie geleenthede.
Kersliggies is elke seisoen by die Kersbegroting ingewerk. Sulke lang stringe, wat altyd gekoek was, en wat met handskoene hanteer moes word, want as een gloeilampie blaas, kan jy maar die string weggooi. Hierdie stringe het altyd ’n tweepuntprop gehad wat nooit goeie kontak gemaak het nie weens die oorlading van die enkele kragprop waar die Kersboom staan.
Die onooglike kragkabel was verder die oorsaak van baie klein “ongelukkies” voor en tydens die feestyd — tot groot vermaak van die jongspan.
Dankie tog dat ons nou ordentlike Afrika- Kersfeeste kan hou.
’n Droë tak van ’n inheemse boom word nou maklik nadergetrek. Kersboomornamente of tooisels is nou meestal van herwinde materiaal (dink draad- sterre, houtfiguurtjies, papierengeltjies) en ons kleingoed maak dit met groot pret self. Oumas hekel nou die mooiste bewertjies en engeltjies wat plek het aan die Kersboom. Stringe springmielies word vooraf geryg en is ’n lekker kuiergeleentheid vir die gesin. Ouma bak saam met die kleinspan ’n paar gemmerbroodmannetjies.
Die sneeu het gelukkig onder die aanslag van die somerson gesmelt. Die liggies het batterye gekry en kan maklik in die vars, groen Kersversierings versteek word. Die ster op die boom word nou van takkies gemaak en toegewoel met pragtige wit LED-liggies. Die pakkies onder die boom is minder, want ons gee vanjaar mos net vir die kinders geskenke … en die geskenksakkies en linte was al gebruik, mooi opgevou en bewaar vir nog ’n spesiale geleentheid.
Jingle Bells en Boney M se refreine is nog tot vervelens in die sentrums te hoor maar by ons huise het Skenk ons ’n somer Kersfees nuwe betekenis gekry van dié spesiale tyd waar ons die blinkste ster en geskenk, Jesus Christus ons Verlosser, se geboortedag vier.
Mag elke gesin in ons lesersgebied ’n ware Christusfees ervaar.



