LettersOpinion

Stil die honger op dié manier

Elke mens word met ’n leemte gebore, wat net gevul kan word deur God en die inwonende Heilige Gees.

Ansie Botha, Modimolle, skryf:

Ek reageer graag op Paul Smith se artikel “Groter nie altyd beter” in Die Pos van Vrydag 7 Desember.

Smith skryf in sy artikel oor “’n onversadigbare honger wat begin knaag kort nadat ’n nuwe aankoop uit sy verpakking gehaal is” en dat die mensdom gestraf is met ’n onvergenoegdheid.

Elke mens word met ’n leemte gebore, wat net gevul kan word deur God en die inwonende Heilige Gees. Voortspruitend die onvergenoegdheid en die mensdom se soeke om hierdie leemte te vul met enigiets behalwe dit waarvoor hierdie leemte bedoel is.

Ons leer gedurende ons kinderjare sekere kernoortuigings vanuit ons lewenservaringe wat dan in die onderbewuste gestoor word. Van hierdie kernoortuigings is dat mense glo hulle is nie goed genoeg nie, minderwaardig, hopeloos, moedeloos, nikswerd en nog baie meer. Dit is soos ’n vuurtjie wat brand, wat eenvoudig net geblus moet word. Gevolglik is een van die hanteringsmeganismes om hierdie kernoortuigings (vuurtjies) te blus, die onversadigbare strewe na meer, soos Smith tereg noem: om te koop en te besit.

Dit is eenvoudig net ’n korttermynoplossing, om vir net ’n rukkie beter te voel, dan is die leemte weer daar wat met nog beter en meer gevul moet word.

Ander hanterings-meganismes wat mense gebruik om tydelik beter te voel, is om alkohol en dwelms te gebruik of te misbruik, vrees, ontkenning, vloek en nog baie meer. En ons kry net nie daardie leemte gevul nie en dit jaag ons “… ’n blote gejaag na wind”, sê die prediker in Prediker 2:26b.

Dan die goeie nuus! Dit is moontlik om uit hierdie eindelose strewe na meer en beter te ontsnap. Plaas God eerste in jou lewe en kry nuwe kernoortuigings (denke) soos Rom. 12:2 sê dat ons nie ons leefstyl moet aanpas  by die gedragspatrone van die wêreld nie, maar kan kies dat God ons denkpatrone en kernoortuigings nuut maak.

Dit is moontlik. Probeer dit. Ek sien dit gereeld in my spreekkamer gebeur. — Brief verkort. Red.

Related Articles

Back to top button