Local newsNews

Liefde is Die Pos-kinderfonds se kragbron

Ons droom dat elke kleuter in ons lesersgebied die kans sal kry tot voorskoolse ontwikkeling sodat niemand gr. 1 met ’n agterstand begin nie.

“Dit is my gebod dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het. Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.” (Johannes 15:12-13)

’n Sakekennis in die stad vra my so ’n ruk gelede uit die bloute waarom die koerant ’n kinderfonds bedryf.

Niks verkeerd met die vraag nie. Ek weet die sakeman wou eintlik sê: Vertel my meer van julle projekte. Ek is nuuskierig waarom ’n koerant juis ’n kinderfonds bedryf. Ek sal dalk graag betrokke wil raak.

’n Mens is so gewoond om met jou kop te dink en vrae so analities as moontlik te beantwoord dat ek die doel van Die Pos-kinderfonds amper soos ’n rympie aan die sakeman verduidelik het. Soos ’n tienpuntplan verduidelik ek waar ons oral betrokke is, dat ons slegs geld skenk aan kinderwelsynsorganisasies in die koerant se lesersgebied, dat ons met kleuterskole in agtergeblewe gebiede saamwerk omdat ons glo dat ’n mens so vroeg as moontlik moet begin om kinders op te hef. Want as die boompie eers tienerfase bereik het, is dit eintlik al te laat. Dat ons droom dat elke kleuter in ons lesersgebied die kans sal kry tot voorskoolse ontwikkeling sodat niemand gr. 1 met ’n agterstand begin nie. Dit alles omdat ons graag iewers ’n verskil in die dorpe in ons lesersgebied wil maak.

Ek vertel verder van die plaaslike ondernemings wat weekliks die wins op hul koerantverkope aan die kinderfonds skenk van individue en weldoeners wie se beursies oop is vir die fonds en van eie koerantprojekte om geld in te samel. Daar is ook ’n anonieme mesmaker wat al vir etlike jare lesers se skêre gratis skerpmaak in ruil vir ’n donasie aan die fonds asook die Ietsie Mois Mark in Bela-Bela wat jaarliks ’n deel van hul ingangsfooie skenk.

Ná my ontmoeting met die sakeman, ry ek terug kantoor toe. En ek dink aan sy aanvanklike vraag: Waarom is die koerant betrokke by ’n kinderfonds. En ek weet dat ek hom met my kop geantwoord het. Dit is nie verkeerd nie, maar ’n antwoord uit die hart, sien heel anders daarna uit.

’n Hartsantwoord sal lui: Ons is betrokke by ’n kinderfonds omdat dit vir die koerantspan deel van hul Goddellike liefdesopdrag is. Die kinderfonds se eintlike kragbron is die liefde.
Die kinderfonds was deur die loop van 2018 betrokke by die volgende projekte:

  • Die fonds se grootste projek was die herbou en verskuif van ’n kleuterskool in die Bela-Bela-township, Sizanothando Kleuterskool, nadat hulle deur die munisipaliteit opdrag gegee is om te verskuif. Die kleuterskool het intussen in getalle verdubbel en die skoolhoof, Elsie Hlongwane, is in Oktober deur die departement van maatskaplike ontwikkeling aangewys as die beste kleuteronderwyser in Bela-Bela.
  • ’n Skenking aan Hoërskool Warmbad om leerders en atlete wat dit nie kan bekostig nie, se deelname aan die atletiekseisoen te verseker.
  • ’n Kontantbedrag aan Huis Tekna om hulle elektrisiteitsrekening te betaal.
  • ’n Kontantbedrag aan die Christelike Maatskaplike Raad om ’n Kersfunksie vir behoeftige kinders aan te bied.
  • Hulp aan die Abraham Kriel-kinderhuis in die bemarking van hul fondsinsamelingsprojekte.
  • ’n Kontantbedrag aan Huis Talje om te help om hul lopende uitgawes te dek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button