CrimeNews

Twee vas ná wilde jaagtog deur dorp

Twee van die aanvallers het glo geld geëis. Een van die mans het hom toe met ’n pistool oor die kop geslaan, waarna hulle die voertuig deurgesoek het.

’n Wilde jaagtog deur Modimolle se strate het gevolg nadat drie rowers glo ’n man op Dinsdag 4 Desember in Vaalwater van meer as R100 000 beroof het.

Die man, ’n 45-jarige sakeman van Vaalwater, het volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, R104 000 by banke in Modimolle en Bela-Bela onttrek. Hy het net ná 16:00 uit Bela-Bela vertrek en weer deur Modimolle gery op pad terug Vaalwater toe.

“Die man het op ’n stadium ’n silwerkleurige Nissan Almera-motor verbygesteek. Die motor het hom agtervolg. Die man het tot by Rhino Tavern in Vaalwater gery en was besig om sy voertuig te sluit toe die Nissan voor hom stilhou en drie mans uit die voertuig geklim het,” het Findlay gesê.

Een van die mans het ook ’n vuurwapen laat val nadat hy tydens hul vlug oor ’n hoë wildsheining geklim het.

Twee van die aanvallers het glo geld geëis. Een van die mans het hom toe met ’n pistool oor die kop geslaan, waarna hulle die voertuig deurgesoek het. Hulle het geld, sleutels en kledingstukke geneem voordat hulle op die vlug geslaan het.

Die Vaalwater-polisie se hulp is ingeroep en hulle het die verdagtes, wat in die rigting van Modimolle en die N1-snelweg gevlug het, agterna gesit.

Konst. Tshepo Nkuna van die Modimolle-polisie se eenheid vir misdaadvoorkoming het op die noodoproep reageer en die verdagtes se voertuig naby die Departement van Korrektiewe Dienste ingewag. Hy het hulle gekonfronteer en skote het oor en weer geklap.

Die voortvlugtende mans het in die hoofstraat af gejaag en by ’n systraat ingedraai. “Nkuna is agterna en die voertuie is agter die polisiestasie verby en in Kroepstraat af. Dis ’n genade dat die voortvlugtendes nie ’n ongeluk veroorsaak het nie,” het Findlay gesê.

Die mans het weer in die tolhek se rigting gemik, maar het naby Castle de Wildt buite die dorp van die pad af gery, uitgespring en oor die hoë wildwering geklouter.

“Een van die mans het sy wapen verloor en is daar naby vasgetrek. Die ander twee het die bosse ingehardloop,” het Findlay gesê. Daar is sowat R65 000 in die man se besit gevind.

Verskeie veiligheidsgroepe in die gemeenskap het ingespring om te help soek.

“Inwoners het die lyndraad afgesper sodat die mans nie tot by die snelweg kon kom nie, terwyl die polisie na die verdagtes gesoek het. Daar is ure lank gesoek en uiteindelik het lede van die veiligheidsgroepe ’n tweede man ongeveer 01:00 vasgetrek nadat hy glo op hulle geskiet het.” Die derde verdagte het ontvlug.

“Die veiligheidsgroepe se hulp was van groot waarde,” het Findlay gesê.

  • Jabulani Skosana (40) en Napolem Magohla (32) het op Donderdag, 6 Desem-ber in die hof verskyn op aanklagte van poging tot moord en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen. Die twee Suid-Afrikaners is vermoedelik van die Hammanskraal/Soshanguve-omgewing afkomstig, het Findlay gesê. Die saak is vir ’n week uitgestel vir verdere ondersoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button