Welkome geskenke
Die inwoners van die Naboom Tuiste vir Bejaardes was aangenaam verras toe hul Kersfees vanjaar vroeg aangebreek het.
“Ek het ’n projek aan die bestuur van die tehuis voorgelê om vanjaar aan elke inwoner ’n geskenkie vir Kersfees op te maak,” het Erna Oosthuizen, wat die projek geloods het, aan Die Pos gesê.
Die voorstel is goedgekeur en die inwoners het ’n vorm voltooi waarop hulle aangedui het wat elkeen graag vir Kersfees wou ontvang.
Die versoeke het gewissel van eetgoed, badbederfies en ’n Bybel wat in groot letters gedruk is. Van die versoeke het ’n teddiebeer ingesluit.
Die 77 inwoners se ouderdomme wissel tussen 31 en 96 jaar waarvan 13 mans en 64 vroue is. Die bejaardes het elkeen ook tuisgebakte vrugtekoeke saam met die geskenke ontvang.
“Mense van tot sover as Roedtan het gehelp met bydraes en die insameling en toedraai van die geskenkpakkies. Die reaksie op ons versoek was só oorweldigend positief dat ons uitgebrei het en ook geskenkies kon gee aan die 46 inwoners van die woonstelle by die tehuis,” het Oosthuizen gesê.
Die oorhandiging van die pakkies is tydens die tehuis se dankie-sê-geleentheid op Dinsdag, 27 November gedoen. Marlene van Staden, burgemeester van die dorp, het ook die geleentheid bygewoon. Die inwoners van die woonstelle het hul pakkies op Saterdag 8 Desember ontvang.
“Sonder die gemeenskap se oop harte sou hierdie projek nie kon plaasvind nie. ’n Mens kan nie soveel blydskap en dank-baarheid in elke ontvanger se oë beskryf nie,” het Oosthuizen gesê.
Melanie van Heerden, Michelle Du Preez en Marita Louw het gehelp met die uitdeel van die geskenke.



