Die geskeduleerde beurtkrag was van 15:00- 17:30. Inwoners het egter met ’n skok besef dat daar ook ’n ander toevoerprobleem was — ’n probleem wat toe bykans 48 uur geduur het en ook die dorp se watertoevoer beïnvloed het.
’n Werker van Eskom, wat verkies het om anoniem te bly, het aan Die Pos gesê die oorsaak van die onderbreking was ’n motorongeluk waarin ’n kragpaal omgery is.
Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle/Mookgophong-munisipaliteit, het inwoners van Leseding en ’n gedeelte van die dorp deurentyd op sosiale media oor die stand van sake ingelig.
Eskom-werkers kon die kragtoevoer op Donderdag, 6 Desember om 17:30 herstel.
Talle inwoners van Vaalwater was omgekrap oor die dorp se kragsituasie. Die Pos het talle klagtes ontvang van sakelui wat sê dat kragonderbrekings hul ondernemings laat skade ly en dat geen huishouding gerat is vir onderbrekings van 48 uur nie.
Van die inwoners het probeer hand bysit, maar dit het nie die probleem vinniger opgelos nie. Een van hulle, past. Ernst Redelinghuys, wat voorheen vir Eskom gewerk het, het aan Die Pos gesê dat werkers nie die nodige toerusting gehad het om die fout te herstel nie.
Van Staden het by navraag aan Die Pos gesê dat die munisipaliteit nie ’n privaat onderneming is nie. “Daar is wetgewing en prosesse betrokke wat tot op die letter gevolg moet word.” Sy het voorts gesê dit is uiters belangrik dat mense danksy hul kundigheid in sekere poste aangestel moet word en nie om politieke redes nie — ’n paktyk wat volgens haar in talle munisipaliteite tot die verlies van kundigheid gelei het.



