
Inwoners van Bela-Bela was op Woensdag 5 Desember op hol ná ’n hoëspoed jaagtog deur die dorp en skote wat geklap het.
Die drama het begin toe ’n vrou van Modimolle glo ’n saamrygeleentheid na Thabazimbi gevra het. Volgens sers. Hester van Zyl, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het die mans in die voertuig haar naby Rooiberg van haar selfoon beroof. Die vrou kon wegkom en het die polisie ontbied.
Die Rooiberg-polisie het die misdaadvoorkomingseenheid in Bela-Bela gekontak om op die uitkyk te wees vir ’n wit BMW met ’n Gauteng-nommerplaat.
Polisielede is na die verkeersirkel in Rooibergweg in die dorp ontplooi om die voertuig, wat in die rigting van Bela-Bela op pad was, voor te lê, het Van Zyl gesê.
Pieter Wagner, sakeman en lid van die gemeenskappolisiëringsforum (GPF), het aan Die Pos vertel dat hy en een van sy werkers in die omgewing was en aangebied het om te help.
Polisievoertuie was dwars oor die pad geparkeer toe die BMW skielik opgemerk is. Die BMW se bestuurder het volgens Wagner teen ’n hoë spoed op die padblokkade afgepeil.
“Die voertuig het om die polisie se padblokkade gery en reg op my afgejaag. Ek moes blitsvinnig uit die pad spring. Toe klap die skote.”
’n Polisievoertuig se voorste lig het in die slag gebly toe die polisie en die ver-dagtes op mekaar gevuur het. Geen beserings is aangemeld nie, het Van Zyl gesê.
Die verdagtes het in Mentzlaan opgery en in die rigting van Bospoort verdwyn met Wagner en die polisie agterna.
“Die voertuig was vir ’n lang ruk weg, maar skielik was hulle reg voor ons. Die BMW het om my voertuig deur die bos gery en is terug dorp se kant toe,” het Wagner vertel.
Die bestuurder van die BMW het egter die slaggate en die los gruis in Mentzlaan onderskat en op die hoek van Stofberg- en Mentzlaan ’n stopteken omgery en teen ’n boom gebots. Die vier insittendes het almal in verskillende rigtings op die vlug geslaan.
Drie verdagtes is aangekeer, maar die vierde verdagte het weggekom, het Van Zyl gesê.
Die gesteelde selfoon wat aan die vrou behoort is by die verdagtes gevind,” het Van Zyl gesê. ’n Mes is ook by ’n ver-dagte gevind.
Wagner sê hy was baie beïndruk met die polisie se reaksie en die samewerking tussen die polisie en die GPF.
“Dit is angswekkend om te dink terwyl ons die polisie probeer help het, kon hulle ons doodgeskiet het,” het Wagner gesê.
- Jacob Lesiba Kgosana (43), Lebitsi Victor Lebelo (46) en Khomotso Sebbey Mokebe (34) het op Vrydag 7 Desember in die Bela-Bela-landdroshof op aan-klagte van roof en die besit van gesteelde eiendom verskyn.Die saak is uitgestel na Donderdag 13 Desember vir hulle profiele om saamge-stel te word, asook vir hulle prokureurs om teenwoordig te wees. Hulle is in aanhouding. Die soektog na die ander verdagte duur voort, het Van Zyl gesê.



