
“Partykeer moet ’n mens jou goeie nuus vir jouself hou. Nie almal is opreg bly om jou onthalwe nie.”
Dié sin wat ek die afgelope week iewers gelees het, het my uit die bloute diep bedroef gemaak. Ek kon nie help om te dink aan die talle kere wat ek met hartseer kinders ná ’n skooldag, kunsfees of sportdag huis toe gery het nie.

Dit is nie lekker om vir ’n laerskoolkind met nat, bruin oë te verduidelik dat ’n mens eintlik deeglik kennis moet neem van juis diegene wat nié vir jou hande klap nie. Hulle wat jou “vriende” is, maar nie saam opgewonde is oor jou goeie nuus nie. Wat nie vra hoe dit gegaan het nie. Wat nie gelukwens as jy presteer of verbeter het nie.
Ek was ontnuger toe ek self jare gelede besef het dat ’n mens eintlik net goeie nuus oor jou kinders met jou ouers, skoonouers en ’n halwe hand vol ander mense kan deel. Die res wil dit nie hoor nie. Hulle is nie noodwendig saam dankbaar soos wat jy oor húlle kinders se klein vreugdetjies is nie. Inteendeel.
“Vat my saam stad toe om die kinders se beddens te sien,” het die vrou wat al bykans 16 jaar in my huis werk, daarop aangedring toe die dag aanbreek dat my kinders koshuis toe moes gaan. “Ek wil die plek sien waar hulle lê as ek saans vir hulle bid.”
By dié nederige vrou het ek ’n groot lewensles geleer: Hou diegene wat wérklik vir jou kinders omgee, styf teen jou bors vas.
Hierdie tyd van die jaar is mense se Facebook-bladsye vol foto’s oor hul kinders se “goeie nuus”: matriekuitslae, gradeplegtighede, nuwe skooldrag. Ek wil dit nie spog noem nie, want spog is so ’n geniepsige klein woordjie waarmee sommige mense ander se dankbaarheid oor hul kinders reduseer tot iets leliks.
Ons hier by Die Pos “spog” graag met die oulike kinders in ons lesersgebied se “goeie nuus”. Ons wil dit hoor en publiseer en saam bly wees. Ons hou daarvan as iemand ons vertel van kinders wat onderskeidings kry, gradueer, hard oefen en presteer.
Ons is saam dankbaar en daarom: Sit ons asseblief op die adreslys wanneer daar “gespog” word met die jongelinge se prestasies, eerste skooldae of sommer net mooi stories oor moeilike omstandighede wat hulle oorwin het.



