
Stieler van Eeden, Bela-Bela, skryf:
Daar word gereeld gekla oor onderverhalings deur ons munisipaliteit en ’n tekort aan inkomste om noodsaaklike uitgawes te dek.
Indien ons verkeersafdeling konsekwent kan optree, wonder ek of hulle nie ’n stewige inkomste in die munisipaliteit se koffers kan verseker nie. Ongeag logistieke probleme wat hulle mag hê, wil ek slegs twee punte van bykomende inkomste uitlig. Dit kan meebring dat duisende rand ingesamel word.
Die eerste is om voltydse verkeersbeamptes aan te stel om die in- en uitgang by die Pick-en-Paysentrum te moniteer. Hoewel daar ’n duidelik sigbare geen regsdraai padteken is, steur feitlik 40% van motorryers hulle nie hieraan nie en die gevolg is verkeersopeenhopings gedurende spitsyte.
Tweedens meen ek dat ’n stopteken en selfs ’n 4-rigting stopteken slegs as versierings in ons strate dien. Die wetsgehoorsame burgers en motorryers stel hulself in gevaar om by hierdie verkeerstekens stil te hou.
Kom verkeersafdeling! Met julle hulp kan ons Bela-Bela se strate veiliger maak en met die geld wat julle genereer kan ons die slaggate herstel.



