Die Donkerpoort-dam voor en ná Desember se reën
“Ons skat die watervlak op ongeveer 30%. Dit is nie sinvol om nou al water daaruit te begin pomp nie.”

’n Hewige reënbui het Sondagmiddag 13 Januarie tussen Modimolle en Alma, in die omgewing van die Donkerpoortdam, uitgesak wat strome water die bykans leë dam laat instroom het.
Volgens boere in die omgewing van die dam het hulle sowat 50 mm reën gemeet.
In die Witklip-omgewing sowat 14 km vanaf Modimolle in Vaalwater se rigting, het raadslid Johann Abrie op Sondag 13 Januarie 87 mm reën binne ’n uur gemeet. Dié reën het gepaard gegaan met hewige wind en huise en store se dakke is afgewaai. Agt Eskom-dubbelpale is omgewaai wat kragonderbrekings in Vaalwater veroorsaak het. Daar het ook hael geval wat skade aan boere se gewasse soos mielies, tamaties en waatlemoene aangerig het.
Abrie sê hy het sedert Maandag 31 De-sember reeds 351 mm reën gemeet.
Die groot vraag op dorpsbewoners se lippe is of die dam vol genoeg is om water daaruit te kan pomp. Die dorp het steeds beurtwater en huishoudings ontvang nie elke dag water nie.
“Ons skat die watervlak op ongeveer 30%. Dit is nie sinvol om nou al water daaruit te begin pomp nie,” het Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, gesê. “Die dam was verlede jaar slegs 40% vol. Ons het op 1 Mei begin pomp en die water het ons vyf maande lank gehou. As ons nou begin pomp, is die water baie vinnig klaar en het ons nie water gedurende die wintermaande nie,” het sy gesê.
Die Donkerpoortdam voorsien sowat 40% van Modimolle se waterverbruik. Die res word deur Magalies Water en boorgate verskaf.
Volgens Barend Pienaar, wat naby die Donkerpoortdam boer, is die damme wat hoër op in die Klein Nylrivier lê, bykans vol.
Nico de Villiers van Modimolle het kort ná die hewige reënbui sy hommeltuig oor die dam uitgestuur. Op die foto’s kan duidelik gesien word hoe die water wat met ’n gedruis vanaf Hessie se Water ingeloop het, die dam bruin verkleur. De Villiers het in Oktober ook die dam afgeneem en die foto’s wys duidelik hoe die damvlak styg en die omgewing van vaalbruin na groen verkleur. Die foto’s wys ook duidelik waar die dam se vloedlyn lê en gee ’n aanduiding dat nog baie reën nodig is om dit te vul.



