Oud-Valie wys gesig
Die personeel van Laerskool Vaalwater was verheug om besoek te ontvang van ’n geliefde oudleerder, Joseph Hloriso Marakalla (20).
Marakalla het sy laerskoolloopbaan in Laerskool Vaalwater voltooi en was in 2011 ’n gr. 7-leier.
Hy het aan Die Pos vertel hoe Adri Grové, destyds sy gr. 1-onderwyser, hom uit die Engelsmediumklas kom haal en in die Afrikaansmediumklas geplaas het omdat hy meer bedrewe in Afrikaans was.
“Mnr. Pieter van der Westhuizen het ’n groot rol in my lewe gespeel. Ek het opgekyk na hom en hy het baie met my vorming te doen gehad. Hy het in gr. 7 vir my klas gegee. Ek glo hy het daartoe bygedra om van my ’n beter mens te maak.”
Marakalla het gesê die onderwysers wat vir hom skoolgehou het, was onder andere Petru Raubenheimer, Marie van der Westhuizen, Bessie Viljoen, Martie Steyl en Isabel Bekker. Onderwysers soos Rebecca Mpepele, Georgina Kolobe en Jane Mongwe was ook groot steunpilare in sy skoolloopbaan.
Marakalla het aan Die Pos gesê al die onderwysers het saamgewerk om kinders van albei onderrigmediums te help vorm.
Marakalla het sy hoërskoolloopbaan by Meetseshehla Secondary School in Vaalwater voltooi en is tans ’n derdejaarstudent aan die Tswane Universiteit vir Tegnologie (TUT).
Hy is besig met ’n drie jaar kursus in boukunde-tegnologie. Hy doen ook prak-tiese ondervinding in geïntegreerde toepas-sing by Central Developments (’n konstruk-siemaatskappy) op.
Marakalla beplan om aan te hou studeer. “Ek wil graag my meestersgraad behaal en sal by een van die groot konstruksiemaatskappye soos Group Five, Raubex of Murray & Roberts wil werk.”



