Local newsNews

Dié tiener wil die wêreld uit die lug bekyk

“My pa vertel dat ek tydens ’n helikoptervlug by die Windpompfees op die dorp by die helikopter se deur uitgeleun het en toe hy my vra of ek graag wil leer vlieg, het ek dadelik ‘ja, baie graag’ gesê.”

Mia Koorzen (17), ’n leerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, het op Saterdag 19 Januarie haar helikoptervlieglisensie verwerf.

Mia het reeds in gr. 6 in helikopters begin belangstel. Gou het haar pa, Gerhard Vosloo, besef dat sy ’n buitengewone passie toon om te vlieg.

“My pa vertel dat ek tydens ’n helikoptervlug by die Windpompfees op die dorp by die helikopter se deur uitgeleun het en toe hy my vra of ek graag wil leer vlieg, het ek dadelik ‘ja, baie graag’ gesê,” het Koorzen vertel.

Sy het op 15-jarige ouderdom met haar opleiding as helikoptervlieënier begin.

“My pa het my gedurende die Julie-vakansie by die vliegskool gaan aflaai en ek het toe vier van die nege vakke vir my leerlingvlieglisensie geskryf,” vertel sy trots.

Die teorie is alles in Engels en soms was dit moeilik om te verstaan. Sy het egter deurgedruk en die ander vyf vakke ook geslaag. In 2018 — op 16-jarige ouderdom — het sy haar eerste solovlug onderneem en haar vuurdoop gehad. Sy is op tradisionele wyse ingelyf en met ’n reuse-brandslang sopnat gespuit.

Sy beplan om meganiese ingenieurswese te gaan studeer en te spesialiseer in die meganiese herstel van helikopters. “Hulle kan my sommer na die onklaar helikopter neem, dan herstel ek dit en vlieg terug,” het sy opgewonde aan Die Pos vertel. Haar droom is om oral in die wêreld vir helikoptermaatskappye te werk en só haar horisonne te verbreed.

Die lisensie laat haar toe om ’n tweesitplek- en viersitplekhelikopter te vlieg. Sy moes 50 uur vlieg om die privaat vlieënierslisensie te verwerf. Vir die navigasiekwalifikasie moes sy vanaf Wonderboom-lughawe na Grand Central-lughawe aan die Oos-Rand vlieg en van daar na Hammanskraal en toe na Bela-Bela en weer terug.

Mia is volgens haar pa die jongste persoon wat by die vliegskool as helikoptervlieënier gekwalifiseer het. Sy het op Donderdag 3 Januarie haar 17de verjaarsdag gevier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button