Local newsNews

Warries se topmatrikulant sy wengeld kwyt

“Ons toppresteerder se drome lê aan skerwe en ons as skoolgemeenskap is saam met hom teleurgesteld en hartseer.”

Hoërskool Warmbad se skoolhoof, Paul Liddle, is moedeloos nadat dit bekend geword het dat dié skool se top-matriekleerder van 2018, Jude Schabort, nie meer duisende rand se prysgeld vir sy prestasie gaan kry nie.

Die skool én Jude is onder die indruk gebring dat hy R10 000 gaan ontvang tydens ’n prysuitdeling van die Bela-Bela-munisipaliteit op Vrydag 18 Januarie by die Multi-purpose Centre in die township.

Die geleentheid is gehou in samewerking met regerings- en plaaslike rolspelers om die top 10-leerders van die kring te vereer, asook diegene wat die beste punte in sekere vakke behaal het.
Jude was tweede op die top 10 in die kring en het ’n gemiddeld van 83% in 2018 behaal.

Die top tien matrikulante is elk R10 000 beloof wat vir hul tersiêre onderrig aangewend sou word, maar die fynskif het dié oud-Warrie klaarblyklik gepootjie.

Liddle het in ’n skrywe aan Die Pos gesê die munisipaliteit weier om die geld aan Jude te gee omdat Jude nie teenwoordig was by die geleentheid nie.

Liddle het gesê die uitnodiging deur Sabina Tabethe, kringbestuurder van die Limpopo departement van onderrwys, was egter slegs aan die hoof en die sekretaresse van die beheerliggaam gerig. Daar is geen melding gemaak daarvan dat oudmatriekleerders die geleentheid moet bywoon nie en daar is eers later versoek dat die 2019-matriekleerders dit vir blootstelling moet bywoon, het hy gesê.

“Ons toppresteerder se drome lê aan skerwe en ons as skoolgemeenskap is saam met hom teleurgesteld en hartseer,” het Liddle gesê. Hy het egter gesê die manier waarop Jude hierdie terugslag hanteer, is ’n navolgenswaardige voorbeeld vir elke leerder in die skool.

Die Pos het David Raborolo van die kommunikasie-afdeling by die munisipaliteit, wat die geleentheid gehelp organiseer het, om kommentaar genader.

Volgens hom was dit nie die munisipaliteit wat die prysgeld aan die leerders beloof het nie, maar privaat instansies wat as borge sou optree.

“In werklikheid het die munisipaliteit nie die geld bewillig vir die geleentheid nie en al die trofeë, kontantskenkings, water en kos is geborg,” het hy gesê. “Daar was egter voorvereistes vir die leerders om die kontantskenkings te kan kry,” het Raborolo gesê.

Een van die vereistes was dat die topleerders op die dag teenwoordig moet wees sodat die borge met hulle kennis kan maak.

Verder moes die leerders ’n toela-tingsbrief of bewys van registrasie van ’n universiteit of ’n ander tersiêre instansie toon wat bevestig dat hulle in 2019 gaan studeer, het Raborolo gesê.
Hy het voorts gesê slegs sewe van die topleerders kon toelatingsbriewe toon.

“Twee vergaderings het tussen lede van die departement, die rolspelers en die topskole plaasgevind en uitnodigings is uitgestuur, maar Hoërskool Warmbad het die eerste vergadering misgeloop en toe laat gekom vir die tweede vergadering. Die voorvereistes van die borgskap is duidelik op die vergaderings uiteengesit.”

Die Pos het in die tweede week van Januarie met Jude gesels oor sy planne vir 2019. Hy het onder meer gesê dat hy nog besluit wat om te studeer.

Ten tyde van die oproep was hy besig met ’n kursus in Knysna om hom te kwalifiseer om Engelse klasse oorsee te kan aanbied, het hy aan Die Pos gesê.

Raborolo het bevestig dat die borge geensins skenkings oorweeg vir leerders wat ’n oorbruggingsjaar wil volg nie.

“Die uitnodigings om na die geleentheid te kom, is deur ons op Vrydag 11 Januarie aan die kringkantoor gestuur, waarna die kringkantoor dit aan die skole moes stuur om op die spesifieke dag teenwoordig wees. Ons het ongelukkig geen verskoning van Hoërskool Warmbad ontvang dat die leerder nie teenwoordig gaan wees nie,” het Raborolo gesê. “Dit is regtig jammer dat die skool nie by die vergaderings teenwoordig was nie en jammer dat die borg daarom onttrek het.”

Die Pos het hom uitgevra oor die tydperk wat verloop het tussen die uitstuur van die kennisgewing en die dag waarop die geleentheid plaasgevind het omdat baie leerders toe reeds weg uit die dorp was.

Raborolo het hieroor gesê dat die presiese name van die toppresteerders uit die streek eers op 11 Januarie deur die kringkantoor bekend gemaak is en reëlings slegs daarna getref kon word.

“Dit was nooit ons geld om te gee nie en elke borg, waarvan die meeste plaaslike mense was, het hulle vereistes gestel. Deur hierdie toekenningsgeleentheid wat ons jaarliks wil aanbied, wil ons onderrig bevorder aan leerders wat ná skool wil gaan studeer.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button