Die storie agter dié foto
“Matthew se gesig op die voorblad van die koerant was net die hupstoot wat hy nodig gehad het. Ons gesin is voor Matthew se eerste skooldag deur diep waters.”
Fotograwe en joernaliste weet dat daar baie dikwels ’n mooi storie agter elke goeie foto lê.
Dit was ook die geval met Die Pos se eerste voorbladfoto van die jaar. Lesers sal onthou hoe kostelik die foto van Fritz Groenewald, sakeman van Bela-Bela, en sy seun, Matthew (6), op Matthew se eerste skooldag by Laerskool Warmbad was. Herman Steyn, Die Pos se bekroonde fotograaf, het dié foto op Woensdag 9 Januarie geneem.
Groenewald het die afgelope week aan Die Pos gesê: “Matthew se gesig op die voorblad van die koerant was net die hupstoot wat hy nodig gehad het. Ons gesin is voor Matthew se eerste skooldag deur diep waters.”
Fritz se ma, Annetjie Groenewald (57), is op Vrydag 7 Desember 2018 aan kanker oorlede.
Sy het sedert 1985 in Lephalale gewoon en sou in Desember na Bela-Bela verhuis om op dié dorp af te tree.
Sy het omtrent ’n jaar lank saam met Fritz en sy vrou, Belinda, en hulle drie seuns, Matthew, Renatus (6) en Joshua (2), in Bela-Bela gewoon. Fritz het vertel dat sy ma ’n paar dae voor haar dood in ’n nuwe huis sou intrek, maar die huis was minder as 50 uur op haar naam toe sy oorlede is.
Volgens Fritz het sy ma dit geniet om haar kleinkinders te sien grootword en het sy die voorreg geniet.
Die tydperk net voordat Matthew skool toe is, was vir die gesin baie moeilik omdat al hul ouma se besittings opgepak moes word. Volgens Fritz het hy die geleentheid gebruik om vir sy seuns te verduidelik dat die lewe vol soet en suur is.
“Tussen die soet en suur gebeur die lewe en ons en ons kinders moet steeds voluit lewe.”
“In daardie oomblik in die klaskamer, terwyl Die Pos se fotograaf die foto geneem het, het ek krag van Bo gekry om vir Matthew moed in te praat, hom sterkte toe te wens en vir hom te sê dat ek trots op hom is en dat hy my yster is.”
“Dit was op die regte oomblik en tydstip ’n positiewe ervaring,” het Fritz gesê, “want hier kom ’n kameraman, onbewus van wat in ons lewens aangaan, en doen iets vir ’n jong seun op ’n tyd dat hy dit só nodig gehad het.”



