
Karel Niewenhuis, adjunk provinsiale leier, Vryheidsfront Plus, skryf:
Daar is min dinge so bedreigend soos verandering.
In Suid-Afrika is verandering van die politieke landskap soos ’n klip wat by ’n berg afrol — onstuitbaar en onafwendbaar. En meestal kom dit as ’n verrassing. Weinig van ons het die moontlikheid om die huidige nege provinsies tot ses provinsies te verminder, sien kom.
Uit ervaring weet ons die ratte van die regering draai stadig maar seker sodat hierdie nie as ’n ydele dreigement afgemaak kan word nie. Die moontlikheid sluit dan ook aan by die regering se neiging tot nasionalisering soos blyk uit onteiening sonder vergoeding en gerugte van die nasionalisering van die Reserwebank. Nasionalisering in die politieke bedeling, soos tans aan die stuur, beteken hulpbronne bly in die hande van korrupte amptenare en politici.
Die indruk wat die vermindering van provinsies wek, is ’n regering wat alle mag en besluite in een mandjie wil gooi. Staatsbesteding moet drasties besnoei word, maar die vermindering van provinsies sal besteding nie verminder nie. Inteendeel, so ’n skuif sal onvoorsiene uitgawes tot gevolg hê soos wat die naamsverandering vanaf strate tot lughawens gehad het. Wat buite rekening gelaat word, is dat die aantal provinsies nie die probleem in Suid-Afrika is nie, maar die roekelose wanbesteding op elke vlak van die regering.
Indien die president sy sin kry, bestaan die moontlikheid dat munisipaliteite en provinsies wat swak presteer, deur dié wat presteer, gedra word. Besluitneming moet immers inwoners van ’n gebied se behoeftes bevredig en bronne moet tot voordeel van inwoners aangewend word. Munisipaliteite en provinsies moet as entiteite van die regering funksioneer en nie op nasionale bronne steun nie.
Die afwenteling van mag tot op plaaslike vlak, is wenslik. Deur die provinsies te verminder, gebeur die teenoorgestelde. Magte op plaaslike vlak word weggeneem en ’n staatkundige model geskep waarin die regering al verder van mense verwyder is.
Om provinsies te verminder, kan ook dien as ’n rookskerm vir afbakening om steun te behou. Dit is ’n moontlikheid wat nie buite rekening gelaat kan word nie.
’n Regering wat saamgestel is deur meer as een party, waarvan kleiner partye soos die VF Plus deel kan wees, sal die ANC se gesentraliseerde regering in die bek ruk. So ’n stap is tot voordeel van die hele Suid-Afrika.



