
Danie van der Westhuizen (36), vervoer-kontrakteur van Bela-Bela, het weer op Vrydag 1 Maart vlugtig in die Bela-Bela-landdroshof op twee afsonderlike aanklagte van diefstal en moord verskyn.
Van der Westhuizen is verlede jaar verbind met beweerde diefstal van trokbande nadat die polisie hom en sy pa, Hardus (58), ook ’n vervoerkontrakteur, aangekeer het.
Danie is egter in Desember verlede jaar bykomend van moord aangekla nadat Hardus onder verdagte omstandighede in ’n Mokopane-hospitaal oorlede is. Hy is glo erg aangerand, het die polisie vroeër gesê.
Die hof het borgtog van R1 000 aan Danie toegestaan op die diefstalaanklag en R5 000 op die aanklag van moord. Hy het intussen ’n nuwe regsverteenwoordiger bekom nadat sy vorige prokureur hom einde Januarie van die saak onttrek het.
Die twee sake is verlede week vlugtig aangehoor en uitgestel omdat die hof wag op forensiese en bykomende verslae van die ondersoekbeamptes.
Danie se regsverteenwoordiger het tydens die verrigtinge aan landdros Maggie Montane gevra of Hardus se borggeld van R1 000 terugbetaalbaar is aangesien hy intussen oorlede is.
Montane het gesê die geld is veronderstel om aan Hardus se vrou, Maria Makatane, uitbetaal te word.
Die diefstalsaak is uitgestel na Woensdag 13 Maart om ’n verhoordatum te bepaal.
Die moordsaak is na Vrydag 5 April uitgestel.
Danie se borgtog vir albei sake is verleng.



