LettersOpinion

Talle foute op waardasie rol

Die talle besware wat in Maart 2018 ingedien is, is steeds nie afgehandel nie en eienaars is nie binne die 30 dae, volgens wetlike voorskrifte, in kennis gestel nie.

Philip van Staden, voorsitter van AfriForum se Naboomspruit-tak skryf :

AfriForum is ’n burgerregte-organisasie wat na die regte en belange van sy lede omsien. Die organisasie het ten doel om kwessies en uitdagings waarmee die lede en die gemeenskap daagliks gekonfronteer word, op volhoubare wyse op te los.

AfriForum skryf dié brief om die gemeenskap in te lig oor die waardasierol wat by die plaaslike kantore van die munisipaliteit, sowel as op die munisipale webtuiste (lim368.gov.za) beskikbaar gaan wees.

By nadere ondersoek het AfriForum gevind dat dit die waardasierol is wat op 1 Julie 2018 in werking getree het.

Die talle besware wat in Maart 2018 ingedien is, is steeds nie afgehandel nie en eienaars is nie binne die 30 dae, volgens wetlike voorskrifte, in kennis gestel nie.

Voorts kon ons nie vasstel wat die datum van dié waardasierol is nie aangesien die rol vir slegs 12 maande na oorhandiging aan die munisipale bestuurder geldig is. Sou die datum van die betrokke waardasie dus steeds Desember 2017 wees, is die rol nie geldig nie en dus onwettig.

Ter inligting: die waardasierol is op 31 Januarie 2018 aan die munisipale bestuurder oorhandig en hy moes dit onmiddellik in die provinsiale koerant geadverteer het. Dit is egter eers op 13 Februarie 2018 geadverteer en die rol is nie binne die 21-dae tydperk, soos volgens wet vereis word, beskikbaar gestel nie.

Daar kom steeds talle foute of weglatings en baie hoë waardasies voor. Die waardeerder moet ’n proses van sonering van die grond bepaal. Daarna moet dit gekategoriseer word en die waarde daarvan opgestel word aan die hand van vergelykbare verkope in die omgewing.

Die inligting van onlangse verkope word maandeliks in opgawes, wat deur die registrateur van aktes uitgereik word, verkry.

Foute wat voorkom in Mookgophong sluit in:

  • Sommige landbouhoewes word as residensiële eiendom gewaardeer en daar is op ’n gegewe bladsy, 25 gevalle vanuit die 49 sulke eiendomme, gevind. Eienaars van dié eiendomme gaan 75% meer aan grondbelasting moet betaal aangesien landboubelastingtariewe nie meer as 25% van residensiële eiendomme mag wees nie.
  • Ander landbouhoewes se waardes verhoog met soveel as 260%. In een spesifieke geval is daar ’n plot sonder verbeterings in 2017 aangekoop teen R300 000 en dié is nou teen R1 150 000 gewaardeer. Plotte in die omgewing met huise daarop word vir slegs R1, 25 miljoen gewaardeer.
  • Sommige deeltiteleiendomme verskyn nie op die waardasierol nie.
  • Talle foutiewe adresse is opgemerk.
  • Daar is buitensporige verhoogde waardasies op woonhuise.

Grondeienaars het tyd tot Saterdag 30 Maart 2019 om besware aan te teken. Indien grondeienaars dit nie doen nie, sal die waardasie geldig wees tot 2023.

Gaan dus dringend na die munisipale kantoor en kyk na jou eiendom se waardasie. As jy nie saamstem nie, teken beswaar aan op ’n vorm wat by die munisipale kantoor aangevra kan word. Die vorm moet voltooi word vir elke eiendom waarmee jy nie saamstem nie.

Related Articles

Back to top button