CrimeNews

Hofsake teen Van der Westhuizen uitgestel

Danie van der Westhuizen (36), ’n vervoerkontrakteur van Bela-Bela, wat onderskeidelik aangekla word van diefstal en moord, het weer op Woensdag 13 Maart in die landdroshof in Bela-Bela verskyn.

Van der Westhuizen is verlede jaar aangekla vir die diefstal van trokbande saam met sy pa, Hardus van der Westhuizen (58). Danie is ook afsonderlik aangekla vir die diefstal van voertuigonderdele.

Danie is in Desember 2018 ook van moord aangekla nadat sy pa onder vreemde omstandighede in ’n Mokopane-hospitaal oorlede is. Hy is glo erg aangerand, het die polisie vroeër aan Die Pos gesê.

Die hof het tydens vroeëre hofverskyning borgtog van R1000 op die twee diefstalklagte toegestaan en tydens sy verskyning op die moordklag is R5000 toegestaan.

Hy het egter in Januarie 2019 ’n nuwe regsverteenwoordiger gekry nadat sy vorige prokureur hom aan die sake onttrek het.

Die diefstal- en moordsake word apart aangehoor, maar tydens Van der Westhuizen se laaste hofverskyning het die hof aangedui dat albei sake op Vrydag 5 April op die hofrol geplaas sal word.

Die diefstalsaak sal ook tydens dié hofverskyning vir mediasie verwys word en Van der Westhuizen se borgtog is verleng.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button