Local newsNews

Organisasies vat hande om jeug te help

Gemeenskapsorganisasies in Mookgophong gee om vir die jeug en het onlangs ’n uitreikaksie geloods met die fokus op jongmense.

Sedert die begin van die nuwe skooljaar in Januarie 2019 het die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die Suid-Afrikaanse polisie (SAPD) tesame met ander rolspelers waaronder die gevangenisdiens, asook wel-synsorgansasies en gods-dienstige leiers in Mookgo-phong die skole in die dorp en omgewing besoek as deel van die “Kick contact crime away”.

Die doel hiervan was om misdaad in die gebied onder jeugdiges te probeer bekamp en die jeug te bemagtig om die gevolge van misdaad te herken en te verstaan en veral die misbruik van dwelms onder minderjariges aan te pak. Die betrokke skole is per e-pos van die besoeke in kennis gestel en daar is met kinders, onderwysers en lede van die gemeenskap gesprekke gevoer.

Een van die belangrike besprekings was skoolveiligheid.

“Vir die volgende maand gaan ons voort met die projek waar ons van huis tot huis besoeke gaan bring. Hopelik kry ons gemeenskapslede om saam met die GPF en polisie om die euwel van dwelmmisbruik hok te slaan,” het AO. George Ledwaba van die polisie in Mookgophong gesê.

’n Ander saak wat baie aandag geniet, is die afknou of “boelie” van leerders. Dit is ’n saak wat op die hoogste vlak aandag geniet en sal nie verder in skole geduld word nie, het Ledwaba gesê.

Dié projek, wat ’n gemeenskapsinisiatief is, is volgens al die betrokkenes baie belangrik omdat misdaad almal in ’n gemeenskap raak en hulle glo daar is reeds groot sukses behaal waarop die GPF wil graag wil voortbou.

Mokhari Secondary School was die laaste skool wat in Februarie besoek is en volgens Philip van Staden, ’n lid van die GPF, is dit een van die skole waar die meeste probleme in die verlede kop uitgesteek het.

Ledwaba het aan Die Pos bevestig dat die projek nog nie afgehandel is nie en dat daar verdere opvolgbesoeke by skole sal plaasvind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button